Gedagte vir die dag: ’n Jaar vol blydskap

Groep_vreugde_blydskap_cotrugli-org.jpg

Foto: cotrugli.org

Lees: Psalm 21:1-7

Die wens van sy hart het U vervul. Wat hy gevra het, het U hom nie geweier nie. U skenk hom voorspoed en geluk. U maak hom altyd voorspoedig, U skenk hom oorvloedige blydskap deur u nabyheid. (Psalm 21:3-4, 7)

Psalm 21 klink soos ’n Nuwejaarswens wat vervul is. Ons lees van wense wat waar word en drome wat vervul word. Ons kry die belofte van voorspoed en geluk wat op ons wag en veelvuldige gawes asook oorvloedige blydskap wat ons deel gaan wees. Voorwaar dinge wat ons so aan die begin van ’n nuwe jaar graag sal wil hê. Dit is Dawid, die koning, wat hier aan die woord is, en hy besef dan ook terdeë dat alles wat hy hier lys, volledig van God se goedheid en genade afhang.

Billy Graham getuig (Die groot boek van Christelike aanhalings Volume 2): “Die onverdienstelikheid van genade en seën maak dat Christene die enigste mense is wat regtig iets het waaroor hulle bly kan wees.” As jy aan Christus behoort, kan jy aanspraak maak op ’n jaar vol blydskap. Ook wanneer dinge verkeerd loop, sal jy hierdie blydskap behou. Dit is ook Dawid wat in ’n lewensgevaarlike tyd in sy lewe steeds kon getuig: “Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie” (Psalm 34:6). Jou blydskap, indien dit in God gesetel is, het altyd die vermoë om die swaarkry wat dalk vanjaar oor jou pad kan kom, te oorspoel. Hou dus vas aan die blydskap wat God jou sal gee en dank Hom daarvoor.

Vader, ek loof U vir ’n jaar van blydskap wat voor my lê. Dankie dat ek, ook wanneer dit nie goed gaan nie, aan hierdie blydskap mag vashou. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack Lategan ·

More : Ek kan nie Onse Vader genoeg dankie se dat ek op 58 hierdie jaar my BCom Graad sedert 1985 kan voltooi deur Unisa nie. Dit kan vir my so baie deure oop maak die jare wat nog wag. Dankie Here dat u my sal help om dit klaar sal kan maak

Charles ·

Dankie aan ons Here wat dit moontlik gemaak het dat ons op 55 op pensioen kon gaan sodat ons meer tyd aan Sy wil kan spandeer. Dankie God vir U oorvloedige seen, genade en liefde elke dag. Ons loof en prys U Naam . Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.