Gedagte vir die dag: ’n Kind is vir ons gegee

Stiltetyd_see_strand_son_NathanSteyn2.jpg

Foto: Nathan Steyn

Lees: Jesaja 9:1-6

’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee. Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. (Jesaja 9:5, NLV)

By een van ons gemeente se Kersdienste stel die sanger Annalise Wiid haar nuutste CD met die titel Kyk haar oë bekend. Sy vertel die mooi storie van hoe haar verhouding met haar dokter verander het toe hy haar gesond gemaak het. Hierdie dokter het as kaalvoetkind in die Noordweste grootgeword en hy was ’n groot geskenk vir sy ouers wat alles in hulle vermoë gedoen het om hom verder te laat studeer. Toe sy gesond is, so vertel Annalise, het sy besef dat hierdie kaalvoet plaaskind ook vir háár gegee is sodat hy haar kon genees. Terselfdertyd het sy gesnap dat God se Seun óók vir haar gegee is om haar van haar sondeskuld te genees.

Dit is weer Kersfees – presentetyd. Het jy al God se Seun in jou eie lewe as jou spesiale Kerspresent verwelkom? God het Hom reeds 2 000 jaar gelede geskenk, sodat elkeen wat in Hom glo, nooit verlore hoef te gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Terwyl Hy op aarde was, het Jesus soos Annalise se dokter, baie mense gesond gemaak. Jesus wil jou graag hierdie Kersfees ook genees van die rits sondes wat daar nog in jou lewe agtergebly het: Selfsug, gierigheid, jaloesie, woede, egoïsme, noem maar op. Elkeen van ons weet presies wat ons eie troetelsondes is.

Moenie langer as hierdie Kersfees wag om die heel beste Dokter toe te laat om jou persoonlike sondes te genees nie.

Here Jesus, dankie dat U ook vir my gegee is om my sondes tot niet te maak. Ek wil nou elkeen van hulle voor U bely en U vir altyd in my lewe innooi. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.