Jou trots, Israel – op jou hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde geval! Saul en Jonatan, geliefde en beminde mense – in lewe en sterwe nie geskei nie. (2 Samuel 1:19, 23)
Nadat Dawid die nuus van Saul en Jonatan se dood verneem het, het hy sy klere geskeur en gerou en gevas – nie net oor Saul en sy boesemvriend, Jonatan, nie, maar ook oor die ander Israeliete wat gesneuwel het.
’n Mens sou dink dat Dawid verlig sou wees dat Saul uiteindelik dood is. Hy was nou ’n vry man. Sy dae as voortvlugtige was verby. Sy pad na die koningstroon het oop voor hom gelê.
In ’n moderne Hollywoodfilm sou die dood van ’n diktator en moordenaar waarskynlik tot feesvreugde gelei het. Mense sou die strate ingevaar het en vlae vanaf balkonne geswaai het, terwyl pantserwaens met wuiwende seëvierende soldate deur die strate ry en lewensgrootte foto’s van die gehate leier op stadspleine verbrand word.
Hier is dit egter nie die geval nie. In een van die aangrypendste dodeliedere, wat as die Booglied bekend staan, verwoord Dawid sy diepe, opregte smart. Sy aartsvyand is dood, maar Dawid hef ’n klaaglied tot Jonatan en Saul se eer aan. Nêrens in die Bybel word daarna verwys dat Dawid Saul gehaat of verwens het nie. In Dawid se oë was Saul die gesalfde van die Here. Daarvoor het hy hom gerespekteer. Hy het nooit sy hand in vergelding teen hom gelig nie.
God vra ook van ons om ons vyande lief te hê. Die wraak kom Hom toe.
Here, help my om my vyande lief te hê. Amen
Sowaar bevestiging van my ervaring
Nadat my maat met ‘n mes aangeval en beroof is was ek woedend van frustrasie en my gees ongemaklik.
Ek vra toe, hoe bid mens vir jou vyande.
Dis ‘n opdrag.
Terwyl ek hiermee worstel sê die Woord so duidelik
“soos Jesus aan die kruis. Vergewe hulle”
net dit
vergifnis
nie klomp ander goed nie
ek word rustig en beleef daardie vrede wat net deur vergifnis gebeur
Dankie Vader
Amen
Dankie Here dat ek op U spoor mag volg…in alle omstandighede