Gedagte vir die dag: ’n Klein oomblik

hande_stiltetyd_oud_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe Ek honger was, het julle vir My kos gegee; toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink … (Matteus 25:35)

’n Goeie vriend van my het vertel van ’n taxibestuurder wat by ’n sekere adres aangekom en die toeter gedruk het. Dit was sy laaste stop vir die dag, en hy het dit oorweeg om bloot te ry. Maar in plaas daarvan het hy tog aan die deur gaan klop.

Hy moes lank wag voor die deur oopgegaan het. ’n Klein vroutjie het voor hom gestaan, met ’n klein tassie langs haar. “Sal jy asseblief my tas dra?” het sy gevra. Hy het die tas kar toe gevat en toe teruggedraai om die vrou te help. Sy het vir hom ’n adres gegee en gevra: “Sal jy asseblief deur die stad ry?” Hy het gesê: “Dis nie die kortste roete nie.” Maar sy het nie omgegee nie. Sy was nie haastig nie.

“Hoe wil jy graag ry?” het hy gevra. Vir die volgende twee ure het hulle deur die stad gery. Sy het vir hom die gebou gewys waar sy voorheen gewerk het en die buurt waar sy en haar man gebly het toe hulle pas getroud was. Skielik het sy gesê: “Ek is moeg. Kom ons gaan.” Hulle het in stilte na die adres toe gery wat sy vir hom gegee het. “Hoeveel skuld ek jou?” het sy gevra en haar beursie uitgehaal. “Niks,” het hy geantwoord. Toe gee hy haar ’n drukkie. Sy het gesê: “Jy het ’n ou vrou vir ’n rukkie gelukkig gemaak. Baie dankie.”

Die taxibestuurder was diep geraak. Wat sou gebeur het as die vrou ’n taxibestuurder gekry het wat ongeduldig was om klaar te kry met sy skof? Hy het besluit dat hy, tot op daardie oomblik, niks gedoen het wat belangriker was as dit nie.

Ons is geneig om te dink die lewe gaan oor groot oomblikke. Maar groot oomblikke kom dikwels onverwags, pragtig verdoesel as iets wat iemand anders maklik as ’n klein oomblik sou sien. Mense onthou nie altyd wat jy gesê of gedoen het nie, maar hulle onthou hoe jy hulle laat voel het.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charl ·

Treffende boodskap, bedagsaamheid is so ‘n klein woordjie maar kan wondere verrig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.