Gedagte vir die dag: ’n Kommervrye jaar

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

Lees: Matteus 6:24-34

Wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? (Matteus 6:27, 30)

Dit is nogal eienaardig dat Christene sulke kommerkouse kan wees – en dit terwyl ons ’n God aanbid wat onderneem om vir ons te sorg. In Jesus se Bergpreek sê Hy tereg dat ons nie deur ons te bekommer eers ons lewens met één enkele sekonde kan verleng nie. En bekommernis is so onnodig! Dit laat ons snags slapeloos rondrol en dit jaag ons stresvlakke op.

Kom ons probeer om van die jaar wat voorlê ’n kommervrye jaar te maak. Eintlik is dit heel eenvoudig. Paulus het die geheim van ’n lewe sonder kommer geken. In Filippense 4:6-7 (NLV) raai hy ons aan om nie bekommerd te wees nie, maar om oor alles te bid. “Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens kan dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is.”

Gaan gesels sommer nou met God oor jou eie bekommernisse – pak hulle een vir een voor Hom uit. En vertrou Hom dan om dag vir dag vir jou te sorg soos Hy beloof het.

Here, ek is jammer dat ek goed weet (en glo!) dat U vir my sal sorg, maar my desondanks steeds bekommer. Ek wil vanjaar oor my bekommernisse bid en vas op U vertrou wanneer hulle my keel weer wil laat toetrek. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Muis ·

Hoe groot is God nie om al ons bekommernisse van ons te vat en dit op Hom te sit nie, dank die Heer Hy is groot en Almagtig Dankie Heer dat u my as sondige mens vat en styf vashou in my tye van bang wees, vrees, alleen en bekommerd ek prys U naam !!!AMEN

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.