Gedagte vir die dag:  ’n Kosbare pêrel

see_skulpe_vrou_hand_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. As hy ’n baie waardevolle pêrel raak­loop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel. (Matteus 13:45)

Die hemel val nie sommer in jou skoot nie. Jy sal dit net kry as jy die goed waarmee jy besig is, neersit en agterlaat en daarna gaan soek. Op pad sal jy Jesus ontmoet en dan sal jy moet kies. Is jy bereid om soos die pêrelhandelaar alles op die spel te plaas?

Dis presies wat Jesus van jou verwag. Gee jou ou lewe weg – al daardie wêreldse begeerlikhede, die pret en plesier waaraan jy so gewoond is en waar­sonder jy nie kan leef nie. Hou hulle teen die lig wat van Hom af uitstraal en bekyk hulle deeglik. Mag deurnagdobbel nou nog deel uitmaak van jou naweekroetine? Het jy jou broer vergewe? Waarvoor spaar jy jou geld? Kan dit nie beter gebruik word om een behoeftige student te borg nie?

As die begeerte jou oorweldig om alles te verkoop en jou by ’n sendingor­ganisasie aan te meld, doen dit. God het ’n taak vir elkeen van ons, Hy ver­wag nie van ons om alles te los en op ’n paal te gaan sit en wag vir die einde nie. Watter nut het ons dan vir Hom?

God wil nie hê ons moet ons van die lewe onttrek nie. Hy gee ons lewens­vreugde in Jesus en maak ons kosbaar in sy diens. Maar maak jou los van jou vorige lewe en jou klatergoudbesittings. Moenie jou so aan jou goed en ge­woontes verknog dat jy ’n hand vol misvormde pêreltjies bly vasklou, terwyl jy die volmaakte een kan kry nie.

Hemelvader, wys vir my wat ek moet doen met myself en my besittings om van nut te wees in u koninkryk.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.