Gedagte vir die dag: ’n Kosbare trane-offer

Kleipotte_2_-stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hy het toe na die vrou gedraai en vir Simon gesê: “Kyk na hierdie vrou. Toe Ek jou huis ingekom het, het jy My nie water aangebied om die stof van my voete af te was nie, maar sy het hulle met haar trane gewas en met haar hare afgedroog.” (Lukas 7:44)

Toe sy ingestap kom tydens die deftige ete wat Simon die Fariseër vir Jesus gehou het, was almal ’n bietjie ongemaklik. Nie omdat sy ’n ongenooide gas was nie, want in daardie dae kon ongenooides teen die muur sit en somtyds met die eregaste aan die tafel ’n geselsie aanknoop. Dit was haar reputasie wat almal skuins laat opkyk het.

Haar lewe was deurmekaar. Sy was wild in haar binneste. Die mans in haar dorp het haar geken. Sy was ’n gevaarlike tipe vrou. ’n Sondares. Maar het hulle die leegheid in haar binneste raakgesien? Het hulle deur haar wilde lewe die honger gesien na ware sin en vervulling?

Sy het op ’n dag gaan stilstaan tussen die skare wat na Jesus geluister het. Skielik het iets in haar gees gebeur. Sy het haar heeltemal verloor in dit wat Hy gesê het. ’n Onbeskryflike besef dat ’n nuwe begin vir haar moontlik is, het tot haar deurgedring. Skielik het sy God gevind en begin huil oor haar sondige rebellie. ’n Vrede soos sy nog nooit ervaar het nie, het binne haar kom lê. En dit was dae later nog daar.

Daarom het sy besluit om dankie te sê. Sy het ’n albastefles met duur aromatiese olie gaan koop, uitgevind waar Jesus die aand sou eet en by die vertrek ingestap. Sy het agter Jesus gaan staan en die fles oopgebreek om die olie op sy voete uit te gooi. Maar toe begin sy so huil van dankbaarheid en geluk dat haar trane oor sy voete val. Dit was die parfuum van haar hart. Toe vee sy die trane af met haar hare en salf sy voete. ’n Heerlike geur het deur die vertrek versprei; die aroma van haar lof.

Wat sal ek en jy vir Hom gee om dankie te sê?

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here vir U genade en barmhartigheid wat my elke dag omvou…Amen

Jan Seerot ·

Kom my medegelowiges, kom praat met my. Nou.

As Jesus hierdie vrou sonder meer vergewe het; die vrou wat die water vir hom moes aangee wat sewe mans gehad en die een wat sy nou het, is ook nie haar man nie; as Jesus die mense wat Hom vermoor het vergewe het; sê nou vir my, wie is jy of ek dan nou eintlik om nie te wil of kan vergewe nie?

Vergewe jou man of jou vrou vir owerspel?
Die bestuurder wat voor jou inry of jou parkeerplek afvat?
Jou kind wat jou so bitterlik teleurstel?

Ja, moet nie aangaan met jou sonde nie, los die rondslapery, los jou sondige stories.

Vergewe en word vergewe. God se vergifnis, is onverdiend, maar baie welkom. Maak gebruik daarvan. Moenie dit misbruik nie. Jesus het daarvoor betaal. Dit was vervlaks duur. Laat die Heilige Gees jou lei.

Ek is deur dit alles. Dit was deksels moeilik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.