Hierdie boodskap is soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. (2 Petrus 1:19)
Jesus se verheerliking op die berg bevestig die profete se voorspellings oor die Messias wat sou kom, skryf Petrus.
Petrus moedig die lesers van sy brief (en ook vir ons) aan om in die lig van die evangelie boodskap te bly leef tot en met Jesus se wederkoms. Hierna beklemtoon hy dat dit die Heilige Gees is wat die woord van God verkondig – ons kan dit nooit met ons eie insig reg verstaan nie.
Die evangelieboodskap is vir jou soos ’n lamp in die donker. Met die insig wat die Heilige Gees vir jou gee, moet jy in daardie lig bly leef totdat Jesus eendag weer sal kom.
“Mense wat in die lig van die Woord lewe, sal op ’n dag ’n heerlike ondervinding van ’n nuwe daeraad by die wederkoms van die Here hê,” skryf Johan Smit (Wandel deur die Woord, p. 296). Mag dit ook vir jou waar wees!
Here Jesus, dankie vir die lig van u evangelie wat die donker uit my lewe verdryf en dit vir my moontlik maak om nou reeds uit te sien na u wederkoms. Amen.