Gedagte vir die dag: ’n Lewe vol onrus en pyn

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

Lees: Job 14

Die mens, uit ’n vrou gebore, se lewe is kort en vol onrus. Hy voel net die pyn aan sy eie liggaam, die smart wat aan hom bly vreet. (Job 14:1, 22)

Nadat ’n reeks ondenkbare rampe die arme Job onverhoeds tref, is dit sy mening dat die lewe van ’n mens kort en vol moeite is; dat ’n groot deel daarvan deur pyn en smart gekenmerk word. George Herbert stem saam met Job: “Ek het gehuil toe ek gebore is, en ek sien elke dag die rede daarvoor.” Wanneer ons na die wêreld om ons kyk, kan ons soms nie help om ook saam te stem met hierdie stelling nie.

Baie Christenskrywers deur die eeue het al met die vraagstuk geworstel waarom ’n liefdevolle God lyding en swaarkry toelaat in die lewe van die mense wat Hom liefhet. Terwyl Jesus op aarde was, is Hy dikwels gekonfronteer met lyding. Hy het altyd die mense wat swaarkry innig jammer gekry. En Hy het ongehoorde dinge gedoen om sy liefde en simpatie met mense wat swaarkry te illustreer. Hy het aan melaatses geraak en hulle genees; Hy het met die uitgeworpenes van die samelewing vriend e gemaak; Hy het siekes gesond gemaak, dowes en blindes weer laat hoor en sien. Wanneer ons na die lewe van Jesus kyk, sien ons dat nie eers God se enigste Seun lyding kon vryspring nie. Om die waarheid te sê, Hy het die swaarste van almal gely omdat Hy sy kruisiging sonder God se teenwoordigheid en ondersteuning moes deurleef.

Wanneer jy weer swaarkry, weet dat Jesus ook jou stuk swaarkry beter sal maak as jy dit na Hom toe bring.

Here Jesus, dankie dat U mense wat swaarkry, aangeraak het. Doen dit vandag ook met my. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.