Gedagte vir die dag:  ’n Lewenswaarheid

Stiltetyd_assisi-annelize.jpg

Foto: Annelize Brits

Lees 1 Johannes 2:1-6

Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het. (1 Johannes 2:6)

Die woorde in dié brief hier aan die einde van die Nuwe Testament word soos ’n sagte salf oor gelowiges se gemoed gesmeer. Dit is só vol bemoediging en ferm versekerings dat Bybellesers gerus meer gereeld hierheen kan blaai. Die taal is eenvoudig, daar is geen lang redenasies nie, dit wek die indruk van ’n rustige pastorale gesprek tussen ’n wyse mens en ’n klomp jonges wat aan sy voete sit en verwonderd luister. Kortom: Dit is die soort preek waaraan die meeste van ons ’n behoefte het – troostend, opbouend, vol deernis en begrip.

Boonop is daar dié logika: Jesus se volgelinge vólg Hom. Hulle maak soos Hy maak. Hulle het lief soos Hy liefhet.

Eenvoudig, nè?

En so bitter ingewikkeld! Want om vol ontsag na Hom te luister, beteken nog nie dat ons ná die gesprek opstaan en doen wat Hy sê nie. Om sy woorde te hoor bied geen waarborg dat ons hart geraak is nie. Of dat ons hande en voete in beweging gekom het nie.

Dit ís so dat volgelingskap vir baie gelowiges niks meer is nie as ’n teologiese begrip en daarom ’n teoretiese oefening. ’n Onderwerp om oor te debatteer, en dan dikwels by geleenthede waar getel word hoeveel engeltjies op ’n naald se punt kan dans. Waar prestasies genotuleer en die linkerhand noukeurig ingelig word watter goeie dade die regterhand gedoen het.

Terwyl dié brief se waarheid heel reglynig is: As jy Jesus liefhet, is liefde vir jou medemens die daadwerklike, praktiese gevolg daarvan. ’n Alledaagse, voor die hand liggende werklikheid, sonder fanfare of eersoekery. Noem dit die refleksreaksie van ’n dissipel.

Here, hoe eenvoudig is u evangelie, en hoe maklik om dit te doen! Wys my …

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.