Gedagte vir die dag: ’n Lig vir die nasies

lig.jpgDie Here het my ’n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te doen. Hy het gesê: Ek maak jou ’n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik. (Jes 49:5-6)

Lees Jesaja 49:1-7

God het ’n besondere taak in gedagte vir die ballinge uit Israel wat nou besig is om na Jerusalem terug te keer – dit is sy wil dat hulle die verlossing wat Hy beloof nie net vir hulleself sal hou nie, maar dat hulle dit sal uitdra na die res van die wêreld. Vir hierdie taak het Hy hulle reeds voor hulle geboorte geroep, skryf Jesaja, en beloof Hy om hulle monde soos skerp swaarde te maak (Jes. 49:1-2). Die profeet Jesaja vertel die volk van hierdie opdrag: “Ek maak jou ’n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.”

God het jóú ook geroep nog voordat jy gebore is om sy getuie op aarde te wees en om die blye boodskap van verlossing uit te dra. Hy wil van jóú ’n lig vir die nasies maak sodat sy redding alle volke sal bereik en almal ’n kans kan kry om in Jesus te glo. Is jy bereid om dit te doen? Dan is die belofte in vers 5 ook vir jou: Dit is Gód van wie die opdrag kom, en dit is ook Hý wat beloof om jou die krag te gee om dit reg te kry.

Hemelse Vader, dis wonderlik dat U my, soos vir Israel, geroep het om ’n lig vir die nasies te wees en u evangelie uit te dra sodat dit die uithoeke van die aarde sal bereik. Dankie vir die belofte dat U my die krag sal gee om dit reg te kry. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.