Gedagte vir die dag: ’n Méns, maar tog anders

Wolke_pad_be…t_Dykema.JPG

Foto: Reint Dykema

U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd. (Psalm 16:11)

Het jy ook al soms gewens jy kan heeltyd net by God bly? Aan die wêreld en sy mense ontsnap en sommer net heeltyd in sy teenwoordigheid rus vind? Ja, ek dink menige geloofskind verlang soms om net by Hom te wees; vir altyd in sy arms rus te vind.

(On)gelukkig kan ons nie ons eie ontsnappingsroete uit die wêreld bepaal nie. Ja, om te mediteer en in gebed agter sy grootheid aan te loop, neem ons nie uit die wêreld nie, maar plaas ons juis ín die wêreld. Dit sit ons juis weer neer waar ons gister was. Neem ons weer terug na die mense met wie ons gestoei het.

Maar nou, nadat ons in stilte Hom gevind het … is ons ánders. Nou is ons dieselfde mens, maar tog nuut in ons denke. Daar in die stilte van ons hart het iets gesterf. Maar iets het ook begin lewe. Daar is woede vervang met deernis. Onverdraagsaamheid met begrip. Wrokkigheid met vergewensgesindheid. Liefdeloosheid met ’n omgee-hart. Selfsugtigheid met sagte oë …

Jou Vader het jou lankal met sy by-jou-wees geseën. Daarom is jy steeds ’n mens, maar tog anders. Jy is minder van jouself. Meer Hom. Hoe wonderlik is jy nie!

Ek is dankbaar-bly dat ek U s’n is en dat U elke dag oor met my begin: van voor af die liefde in my plant.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.