Gedagte vir die dag: ’n Moeilike situasie

vrou_vrede_natuur_sonsopkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, omdat sy baie liefde aan My bewys het. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde! (Lukas 7:47)

Toe Jesus in die huis van Simon die Fariseër was, het daar ’n vrou met ’n slegte reputasie in die vertrek ingestap en Jesus se voete gesalf. Simon het hom vir haar vervies en vir homself gesê: “Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ’n sondaar” (v. 39).

Jesus was bewus van Simon se woede en daarom het Hy gesê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” Toe vertel Jesus ’n gelykenis van twee mense wat in die skuld was by iemand wat vir hulle geld geleen het. Die een het R500 geskuld en die ander een R50. Maar hulle het nie geld gehad nie. Later het die man wat die geld uitgeleen het maar die skuld afgeskryf. Hy het vir die twee mans gesê hulle hoef hom nie meer terug te betaal nie. Toe vra Jesus watter een die dankbaarste sou wees. “Wel,” het Simon gesê, “seker die een wat die meeste geskuld het.” Natuurlik! Omdat hy die meeste geskuld het, was sy dankbaarheid seker die grootste. Dis waarom hierdie vrou so dankbaar is (v. 47). Haar skuld was groot, maar is vergewe.

Ons kan soms net so hardvogtig soos hierdie Fariseër optree. Ons kyk na die uiterlike omstandighede, dink aan ons reputasie, en mis die punt.

’n Boemelaar stap op ’n dag tydens ’n diens by ’n kerk in. Hy loop tot heel voor en sak op sy knieë neer. Die mense kyk verbaas na mekaar. Die koster staan op en stap vies na die man toe. Hy gryp hom aan sy arm en wil hom so gou moontlik uit die kerk uit kry. Die predikant keer hom en praat met die boemelaar. Daarna vra hy die gemeente om saam vir die man te bid.

Reputasie, posisie, eer is nie belangrik nie. Die hárt van ’n mens wel.

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here U die kenner van harte bewys barmhartigheid aan n sondaar soos ek….dankie Here

Aggie ·

Dankie ds Jan ! Ek het ook ‘n verhaal gelees van ‘n boemelaar wat nie eens skoene aangehad het nie die kerk binnegekom het en geen oop sitplek kon kry nie. Hy stap toe tot heel voor en gaan sit plat voor die kansel. Die gemeente lede fluister onder mekaar. Toe kom ‘n manlike gemeentelid afgestap, gaan trek sy skoene uit en gee dit vir die boemelaar en bly sit daar saam met hom. Mense het begin trane afvee. Toe sê die dominee: Ek kan geen beter boodskap vir vanoggend bring nie. Kom ons sing ‘n loflied en gaan dan huistoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.