Gedagte vir die dag:  ’n Nuwe begin

man_strand_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Sagaria 3:1-10

“Trek uit dié liederlike vuil klere van hom.” Vir Jesua het hy gesê: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek.” (Sagaria 3:4)

Die Here wys aan die profeet Sagaria ’n reeks gesigte, maar ons, hedendaagse lesers, verstaan daar bloedweinig van. Daardie tyd en omstandighede is vir ons vreemd, die beeldspraak nogal duister – tensy jy jou eie afleidings wil maak of jou aan allerlei slimjanne en húl verklarings wil steur.

Maar daar is heelwat waarvan ons tog iets begryp: die Here, byvoorbeeld. Hy wat die aanklaer bestraf, die opportunistiese Satan, wat kans sien om die Here se kind by Hom aan te kla en wat toe deeglik pak kry. En verder geïgnoreer word.

Die Here is te besig om sy vernielde kind te versorg om Hom aan kansvatters te steur. Hoe anders is Hy as ons! Ons wat die Satan met soveel dodelike erns bejeën. Ons wat soveel ontsag vir daardie ou skepsel se laaste stuiptrekkings het.

Die kollig in hierdie stukkie geskiedenis behoort, soos altyd en in elke stuk geskiedenis, aan die Een wat met sy mense telkens voor begin. Wat daarin spesialiseer om die liederlikheid, vuilheid en versletenheid wat aan hulle kleef met iets gans anders te vervang. Hy wat, bo alles, vir hulle ’n nuwe opdrag het en só bewys dat Hy hulle steeds vertrou, ten spyte van alles.

Hierdie bevoorregte kinders moet weer kennis neem van die Almagtige se heiligheid. Hulle moet weet om hulle nie daaraan te vergryp nie. Hulle moet te alle tye hul plek voor Hom ken.

Dan kan hulle hulle klaarmaak om met die allerheerlikste beloftes saam te leef. Met die prentjie van mense wat rustig sit en gesels in die koelte van hul Here se teenwoordigheid.

O Here, gee ons tog nou reeds iets van daardie rus. En leer ons hoe om die salige skadu’s te geniet.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.