Gedagte vir die dag: ’n Nuwe begin vir die koninkryk

sonsopkoms.jpg

Foto: flickr.com

Dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. (Klaagl 3:21-23)

Die wyse waarop die Israeliete die ballingskap ervaar het, word treffend verwoord in Psalm 137 en in Jeremia se Klaagliedere. ’n Volk in sak en as – hulle het alles verloor wat vir hulle regtig saak gemaak het: hulle land, hulle koninkryk en hulle tempel. Die eens glansryke koningstad het in puin gelê. Hulle was so te sê die slawe van ’n heidenvolk waar hulle uiters ontuis was. En tog was hulle die mense wat vir God getart het deur juis agter heidense afgode aan te loop en heidense gebruike op die proef te stel.

’n Mens het simpatie met die talle opregte gelowiges wat onder die ballinge was. Waarom moes hulle saam met die res gestraf word? Dis dinge waaroor ons vandag ook wonder – waar om word God se getroue kinders saam met die res van die wêreld aan allerlei ellendes blootgestel? Jeremia het dit ook gevra. En dit lyk vir my dat hy te midde van die ellende die won der van God se goedheid ontdek het, dat sy genade elke môre nuut is. Maar ’n mens kan eers tot hierdie insig kom na behoorlike selfondersoek en hartgrondige bekering.

Ook aan hierdie jare van ellende het daar ’n einde gekom. Die tyd vir terugkeer na hulle land het aangebreek. Met groot verwagting het hulle uitgesien na die herbou van die tempel, die stad van Dawid en die koninkryk. Maar hierdie nuwe bedeling was nog nie die paradysverhaal waarna hulle uitgesien het nie. Weer ’n keer het God se plan anders gelyk as wat mense voorsien het.

Bly maar net hoop; God se ontferming is elke môre nuut!

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.