Gedagte vir die dag: ’n Nuwe begin

Foto: pixabay.com

Lees Jeremia 23:1-6

Dan sal Ek herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle versorg, en hulle sal nie meer bang of verskrik wees nie en hulle sal nie meer wegraak nie … (Jeremia 23:4)

Die herders wat aanvanklik aangestel is om die Here se kudde te versorg, was klaarblyklik nie sy vertroue werd nie. Dit was immers tydens húl dienstyd dat die kudde uitmekaar gejaag is. Hulle het die Here se eiendom doodeenvoudig nie behoorlik opgepas nie.

Dit is mos die ding met herders: Hulle is nie baas nie, al dink hulle soms hulle is. Herders is knegte wat deur die Baas aangestel word. Hul opdrag is om na die Baas se eiendom om te sien. Om te sorg en te versorg. Om te beskerm. Om die bes moontlike oppasser vir die Baas se kosbaarhede te wees.

Daarom is baasspelery in dié geval sonder meer taboe. Verwaarlosing nog meer so. Asook, en dalk die ergste van alles, die doelbewuste beeld wat na buite uitgestraal word dat hierdie troppie “myne” is.

Die Here speel nie met herders wat hul sogenaamde posisie misbruik nie: “Ellende wag vir julle …” (v. 1). Niemand vergryp hulle aan my skape nie!

Daarom, sê die Here deur sy profeet, het die tyd vir ’n heel nuwe bedeling aangebreek. In die nuwe tyd sal daar reg en geregtigheid wees, en voorspoed en vrede. Die kudde sal hul vrees verloor.

Hulle sal boonop ’n nuwe woordeskat aanleer. Voortaan sal hulle kan sê: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie …” (Ps 23:1-3).

Ja, my Herder, selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Byekonfyt ·

Amen! Dit laat my ook dink aan Psalm 3. Veral die vers: “Maar U, HERE, is ‘n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef .”

Derek ·

Esegiel 34! GOD is liefde en Sy herders ken 1Korintiers 13, daarom die opstanding en die ewige lewe. Christus is ons Herder!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.