Gedagte vir die dag: ’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde

see_rotse_hemel_sonsopkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: 2 Petrus 3:8–13

Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers. (2 Petrus 3:13)

Die bekendste beskrywing van die nuwe hemel en die nuwe aarde in die Nuwe Testament is dié van Johannes op die eiland Patmos: ‘Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie’ (Op 21:1). Johannes skryf dat God se woonplek by die mense sal wees; Hy sal by hulle bly, hulle sal sy volk en Hy hulle God wees. Al die dinge wat op aarde moeilik was, soos die dood, lyding en siekte, sal daar nie meer wees nie. God sal die trane van almal se oë afdroog. Johannes beskryf die nuwe Jerusalem verder as ’n stad wat soos ’n edelsteen sal glinster en goue strate en pêrelpoorte sal hê. Daar sal geen tempel in die stad wees nie, sê Jesaja, want sy tempel is die Here (vgl. Openbaring 21:3, 11-23).

Ook Petrus moedig die lesers van sy tweede brief aan om in verwagting van hierdie heerlike nuwe aarde en hemel te leef. Ons het nou al ’n paar maal gesien dat ons as mensekinders ons skaars kan indink hoe wonderlik die hemel is – ek is seker dat dit baie wonderliker as ons wildste drome gaan wees. As jy aan God behoort, mag jy maar élke dag in verwagting leef dat die hemel eendag vir jou sal aanbreek.

Here, hoe wonderlik is dit om nou al te mag uitsien na die nuwe hemel en u nuwe aarde wat U vir u kinders gereedgemaak het! Dankie vir die belofte dat alles wat op aarde vir my moeilik was, dan vir altyd verby sal wees.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Estelle ·

Ek kan nie meer wag vir die nuwe hemel en nuwe aarde met GOD die enigste leier na wie ons kan opsien. n Jerusalem waar ons kan huppel en dans en vrolik kan wees met geen pyn en lyding meer nie. Sjoe dit sal darem wonderlik wees om weer met ons families te herenig word. JESUS is waarlik groot en ons enigste redder en verlosser.

Nicoline ·

Dankie Heer,vir U genade en belofte.Dankie dat Jesus vir ons sondes gestres het,sodat U kinders die Ewige Lewe mag beërwe.Kom tog gou …Here Jesus ?Amen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.