ʼn ‘Nuwe’ nagmaal

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

Die viering van nagmaal wat deur Jesus self ingestel is kan tog nie oud word nie, maar tog skryf ek oor ‘n “nuwe” nagmaal. Nou die ander dag het die viering van nagmaal tóg vir my ‘n nuutheid laat ervaar.

Ons wêreld is skielik tot stilstand geruk en almal is genoop om wyd uit die kassie uit te dink. Die ondenkbare spoel oor ons soos ‘n tsunami en baie word oorspoel en oorweldig met onbeskryflike ellende en onherstelbare skade.

Wonderbaarlik spoel die tsunami ook oop, wat verborge was: Die Godgegewe gawe van kreatiwiteit en innoverende denke. Boeke kan geskryf word oor vindingrykheid om orde in ʼn deurmekaar wêreld te skep.

Van die kosbaarste is sekerlik wat geestelike leiers uitgedink het om tegnologie te gebruik om hulle kuddes geestelik te versorg en op te bou. Voorbeelde is legio! Hier in onse dorp maak al die predikante daagliks op lofwaardige wyse van tegnologie gebruik om broodnodige geestelike versterking voort te sit.

Vanjaar se Paasfeesviering sal my vir altyd bybly. Dit was so geheel anders en vir my was dit eintlik betekenisvol, intiem en ‘n besondere emosionele ervaring. Dit was amper of ‘n mens dit nader aan jou hart ervaar het.

Oral in ons land het geestelike leiers, danksy tegnologie, die nagmaalviering uit die kerkgebou huis toe geneem. Vir baie was dit ‘n vreemde gedagte om as gesinne en ons, hier in Tehuis Ou Meule, as vriende die nagmaal saam kon vier.

Oor die algemeen het dit die Donderdagaand plaasgevind. Die voorafreëlings is keurig en sorgvuldig getref soos mense dit in hulle harte aangevoel het. In baie gevalle het flou lig, kerslig en passende musiek ‘n gewyde atmosfeer geskep en die betekenis van die viering nuut en innig gemaak.

In aanloop tot die Paasfeesviering het my gedagtes ander koers gekies toe ek gedink het aan al die inwoners wat nie die gerief en voordeel van elektronika het nie. Ek en my inwonende diakentjie het eers voelers uitgesteek en toe begin reël. Wyn of druiwesap en brood was nie ‘n probleem nie maar ons kon nêrens glasies kry nie.

Ons gawe kombuisbestuurder het klein plastiekbakkies, wat eintlik vir slaai bedoel is, aangebied en ons het besluit die doel heilig die middel. (Die slukkie het die bodem van die bakkie net mooi bedek, wat ons toe laat besluit het om dit ‘n slukkie en ‘n half te maak!)

Om nie met die gemeentes se reëlings te oorvleuel nie, het ons besluit op Goeie Vrydagoggend. Almal is uitgenooi – dié wat nog kan loop en ander wat in rolstoele sitkamer toe gestoot kon word. Ons het gehoop so twintig sal opdaag en vir die wis en die onwis vir vyf-en-twintig voorberei. Min het ons kon dink … !

Vooraf is die tafel netjies gedek en toe gebeur dit: Toe ons twintig voor tien daar aankom, toe sit twee-en-dertig reeds en wag! My knap diakentjie het ‘n kwartier gehad om ‘n plan te maak en sy het dit reggekry! Daar was genoeg vir die twee-en-veertig wat uiteindelik opgedaag het en wat daarna nog sou volg. (Die verpleegsters wat die rolstoele gestoot het, het vir my gevra: “Oom wat van ons wat moet werk ….. ?”)

Iemand het die volgende dag vir iemand gevra of ek gepreek het! Haar antwoord was in die kol: “Nee, hy het net vir ons ‘n storie vertel en toe vir ons mooi verduidelik wat die nagmaal beteken. Dit was baie ‘mooi’.”

Ja dit was ‘n onvergeetlike, eintlik onbeskryflike storie van wat ons in Jerusalem beleef het. Ek het hulle saam met ons die lydenspad – die Via Dolorosa – laat stap en so ‘n wyle teruggedink aan Jesus se aangrypende woorde voor sy wrede kruisdood en uiteindelik sy belofte voor sy hemelvaart.

Ons eerste staanplek was in die tuin van Getsemane. Daar het ons woordeloos tussen olyfbome, wat meer as tweeduisend jaar oud is, rondgestap. Weliswaar nie olyfbome soos ons dit ken nie, maar op die grond, twee meter en meer dik. Nie een soliede stam nie, maar soos oorspronklike stamme deur die eeue afgesterf het, het nuwe groei uit oeroue wortels bly uitspruit.

Terwyl ons ons hande oor die dooie stompe laat gly het, kon ‘n mens aan niks anders dink nie. Dis die plek waar Jesus gaan bid het. Die plek waar sy angssweet, bloedsweet van Hom afgedrup het en dan sy gebed: “Vader laat hierdie beker by my verbygaan, maar nie my wil nie, laat U wil geskied.”

Ons tweede staanplek was die terrein waar die verhoor plaasgevind het. Die plek waar Jesus gespot, gehoon en gemartel is. Die plek waar Hy valslik veroordeel is. Die plek waar sweephoue sy liggaam oopgekloof het en mense op Hom gespoeg het. Die plek waar ‘n doringkroon in sy kopvel ingedruk is. Die plek wat Hy met sy geknakte liggaam sy kruis moes opneem. Dit was daar waar ‘n mens jou emosies moeilik kon beteuel.

Die derde was nie staanplek nie, maar stapplek. ‘n Smal, kronkelende, met klip geplaveide straatjie wat na die Noordpoort van die stadsmuur lei. Dit was op dié straatjie wat Jesus sy kruis tussen die spotters moes dra totdat sy krag ingegee het en Simon van Cirene beveel is om die kruis verder te dra. Ons het sprakeloos en bewoë tot by die poort gestap.

Die vierde was weer ‘n stapplek wat op ‘n staanplek uitgeloop het. Deur ‘n tuin met welige plantegroei is ons na ‘n uitkykpunt wat ons staanplek was. Daar kon ons af kyk op Jerusalem, binne die ou stadsmuur en almal was in gedagtes versonke. Die gids het ons gevra om om te draai. Ons het omgedraai …

‘n Paar honderd meter van ons af was Golgota, onmiskenbaar teen die blou lug afgeëts. Baie duidelik die plek van die Kopbeen, met holtes deur eeue se wind en weer se verwering van sandsteen. Dit het ‘n tydjie geneem om te besef en glo wat jy sien. Golgota, já, Golgota!

Argieffoto (Foto: Gerd Altmann/Pixabay)

In jou geestesoog sien jy en hoor jy. Die Man van Smarte word aan ‘n kruis vasgespyker. Jy “hoor” dit. Jy “sien” dit. Die kruis word in die gat gegooi – nie versigtig laat sak nie. Van die kruis af sien Jesus sy moeder en boesemvriend raak. En dan die grenslose empatie en deernis. Vir oulaas: “Daar is u seun. Daar is jou moeder. Passievolle, liefdevolle liefde en omgee. Vir oulaas.

Daar was die bespotting, die hoon, die vernedering, die onmenslike pyn en die son wat ongenadiglik neergebrand het en toe die uitroep: “Ek het dors!” Spottend is ‘n hisopstingel met ‘n spons, wat in suur wyn gedoop, is teen sy mond gehou en Hy het sy mond weggedraai.

Toe roep ‘n sondaar in sy doodsnood: “Jesus dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!” en toe is daar vergifnis en sterwensgenade: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Blye verseek’ring ….!

Die moordende, uitmergelende marteling het pynlik stadig verbygegaan, tot drie-uur die middag en Jesus uiter sy smartkreet: “My God, my God, waarom het U my verlaat?!” Die finale knak en breekpunt. Dít was die énigste belewing ooit, van Godverlatenheid.

Toe was daar die semi-finaal. ‘n Triomfantlike uitroep: “DIT IS VOLBRING!” en toe het Jesus hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Hy het sy kop laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

Die gids het ons verder deur die tuin gelei en ons het woordeloos, diep ontroerd gevolg op pad na ons volgende staanplek. Ons het om ‘n reuse vyeboom gestap en ewe skielik het ons dit voor ons gesien: ‘n Graf wat in die rots in gekap is en langs die graf ‘n weggerolde steen – ‘n plat wielvormige stuk rots.

Ons kon beurtelings in die grafkamer instap. In die kamer was lêplekke uit rots uit uitgekap. Op die een lêplek het doeke gelê, maar die kopdoek was netjies opgerol – die teken dat Hy weg was, maar wéér sou kom.

Bokant die uitgang is daar ‘n bord met die aangrypende boodskap: HE IS NOT HERE! HE IS RISEN! Dis vreemd, maar dit was skielik vreugdevol anders, want die Heer het opgestaan! Ja, Hy het wáárlik opgestaan en die kopdoek lê opgerol want Hy kom weer! Weliswaar, nie terug graf toe nie!

Terug op ons spoor, was die laaste sitplek onder die groot vyeboom. Daar het ons predikant nagmaal bedien. Dit was ‘n hartroerende geleentheid want dit was of die kruisiging sommer nou die dag plaasgevind het. Dit was dié een nagmaalviering wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie.

Dit was my storie waarna die aanwesiges aandagtig geluister het en toe het ek vir hulle gesê dat ons bymekaar was om te onthou, te herdenk dat Jesus in ons plek sy lewe afgelê het om ons sondes op Hom te neem. Hy die Man van Skande. Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Die bediening van die nagmaal was eenvoudig, kort en kragtig maar baie gewyd. Ek het die brood gebreek, daarvoor gedank en die brood is uitgedeel. Party se hande het só gebewe dat hulle gehelp moes word om die broodjie tussen die vingers te kry. Ons het die brood gehou en almal saam geëet.

Een van die inwoners, Japie, is amper twintig jaar in Ou Meule, nadat hy erge beroerte gehad het. Hy is rolstoelgebonde, sy oë vonkel altyd en hy kan net twee woorde uiter: “Baiiiiie dankie!” en as ‘n mens deur die gange loop, hoor jy hom dag en nag.

Nadat ek die wyn geskink het, het ek vir Japie gevra om drie keer dankie te sê vir die bloed van Jesus wat van sonde reinig. Ek moes hom beperk, anders het hy nie opgehou nie! Ek kon nie help om te kyk nie. Hy het sy hande gelig so hoog hy kon en dit het gelyk asof sy gesig straal, terwyl hy drie keer dankie gesê en die ‘baie’ lank uitgerek en toe het ons almal saam die wyn gedrink.

Oom Frikkie het spontaan begin sing en almal het gevolg: “Die liefde van Jesus is wonderbaar … Dat Hy my gered het, is wonderbaar … Kom ons verheerlik sy naam … Die mense verander maar Jesus nooit! Kom ons verheerlik sy naam.” Al wat ek verder wou sê, was “Amen”.

Toe ek my oë oopmaak, het hulle daar voor my gesit. Ek sal dit nooit vergeet nie. Party het sakdoekies of snesies gehad en ander het sommer so met die duimkant van die hand, wat uit hulle hart uit oorgeloop het, afgevee.

Een het my nader gewink en toe ek afbuk om te luister, toe hoor ek: “Ek het nie gedink ek sal ooit weer nagmaal gebruik nie.” Meer wou iets sê: “Nou kan ek maar doodgaan. Ek het my Here se dood herdenk en ek kon weer dankie sê dat Hy my gered het.” ‘n Bejaarde vriend wou iets sê, maar hy was te bewoë. Net Japie se gesig het geblink van vreugde! Anders as gewoonlik, was almal traag om terug te keer na hulle woonplekke.

Intussen het my liewe ‘diakentjie’ gaan voorberei vir wat voorgelê het. Soos ons beloof het, het ons nagmaal bedien aan die verpleegpersoneel in die siekeboeg wat ‘n tydjie kon afknyp – sommer daar in een van die gange. Daarna is ons na die kombuis en daar langs die kospotte is nagmaal bedien aan dié wat nagmaal wou vier.

Laatmiddag is ons na die siekes en verswaktes, wat nie die oggendbyeenkoms kon bywoon nie, gaan inloer en gevra of hulle behoefte had om nagmaal te vier. Almal het die behoefte te kenne gegee. Terwyl ek met hulle oor die viering van nagmaal gesels het, het my diakentjie die skinkbordjie met die brood en wyn gaan haal en dan het ons saam die teken van brood en wyn gevier.

Dit was ‘n lang dag – ‘n dag van onvergeetlike belewenisse en heilige oomblikke in die teenwoordigheid van ons verrese Heer en Verlosser. Onuitwisbaar geskryf in die harte van hulle wat dit beleef het.

Dit was ‘n núwe nagmaalviering. ‘n Nagmaalviering vir oues van dae – vir party die laaste dae in hulle ou aardse tentwoninkie – wat weens omstandighede uitgesluit word van die dinge wat baie as vanselfsprekend beskou. Nagmaalviering in die werkplek – “Oom, wat van ons wat moet werk, en nie nagmaal kan vier nie?” Nagmaalviering vir verswaktes wat siekbedgebonde is, wat hulle binne die vier mure van ‘n kamer bevind. En dominees is in hulle pastorieë ingeperk …

‘n Onverwagte, ondenkbare pandemie het die wêreld, ons land, ons dorpe en ons daaglikse lewe tot stilstand geruk. Nou is die lewe aan flarde geruk. Nou moet ons die stukke bymekaarmaak, sorteer en van vooraf begin. Nou is die tyd om nuut te dink en nuut te LEEF! Nou is die tyd om uit te vind waarvoor ons geroep is en dan entoesiasties aan die werk te spring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.