Gedagte vir die dag: ’n Nuwe tyd

takkie-blare-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jesaja 11:1-10

’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra. (Jesaja 11:1)

Jesaja bring groot troos vir die verwarde, leierlose volk: Daar kom ’n nuwe bedeling, sê hy. Dinge sal nou anders verloop. Kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.

Julle onthou mos vir Isai, die ou vader van ons Dawid die Grote? Nou ja, uit sy nageslag sal daar nuwe hoop kom. Boonop kan julle uit die staanspoor weet dat hierdie hoop in die Gees van die Here gesetel is. Die Gees wat toerus, wat alles gee wat nodig is om troosteloosheid en hooploosheid te verdryf.

En wie kan solank die hardste begin juig? Die armes, die sag- moediges. Hulle wie se regte so maklik vertrap en  wie se hart so maklik gebreek word. Dit is hulle wat die eerste vrugte van die nuwe bedeling sal proe. Nooit weer word hulle uitgebuit en geboelie nie. Daarby kan die boelies en brekers en die uitbuiters en vertrappers hulle maar klaarmaak vir die woede van die Een wat soveel nuwe hoop bring. Hulle sal dit moet trotseer; hulle sal dit egter nie oorleef nie.

Die nuwe hoop sal ook ’n tyd van ongekende vrede inlui. Kyk net hoe lê die wolf en die lam langs mekaar …

Was dit maar ’n droom? Die gesig wat ’n ooroptimistiese mooiweersprofeet in sy geestesoog sien en in die oortreffende trap verkondig aan mense wat ’n dringende behoefte aan goeie nuus het?

Dalk, ja.

Maar sê dit nou vir mense wat reeds die slapies na 25 Desember tel! Hulle wat reeds Matteus 1 se geslagsregister ken. Hulle wie se maklike sinisme elke dag deur wonderwerke geknou word.

Help my uit my ongeloof, Here! Ter wille van myself en my nageslag.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Derek ·

So wag ons op die nuwe Jerusalem, kyk Ek maak alles nuut spreek die Woord, die ou dinge het verby gegaan! Watter ou dinge? die ou verbond naamlik godsdiens, die boom van kennis van goed en kwaad want Christus is die Lig, die Lewe en die Waarheid! Johannes 1 leer ons dat ons nie onder die wet van Moses leef, maar onder die genade van Jesus Christus, onder God se gebooie wat van die begin af daar is en dit is dat gelowiges mekaar moet liefhe soos Hy ons liefhet. Sonder liefde 1 Korintiers 13 is ons niks!

Derek ·

Want uit genade is julle gered, nie uit die werke van die wet nie, sodat niemand mag roem nie. Daarom wie onder die wet leef sal deur die wet geoordeel word, die wet is die tugmeester na Christus! Met die hart glo ons en met die tong bely ons dat Jesus Christus die Messias, die Lig van die wereld is. Wie nie die Seun het, het ook nie die Vader, want die Vader word deur die Seun verheerlik. Die gebooie van God is aan die begin vir ons gegee om te gehoorsaam!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.