Gedagte vir die dag: ’n Nuwe visie

vrou_uitgestrekte-arms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. (Jesaja 40:31)

Een ding staan darem soos ’n paal bo water: Ons is almal baie sterk uitgelewer aan omstandighede. Ons stemmings word bepaal deur koerantopskrifte, banksaldo’s, ’n telefoonoproep, huislike konfl ik, knaende artritis of wat anders ook al. Ons kyk saans na die weerprogram om die volgende dag se doen en late so goed moontlik te laat verloop. En ons word so maklik moedeloos as dinge skeefloop, nie volgens ons plan vir die dag verloop nie! Ons kortsigtigheid beperk ons visie in so ’n mate dat ons perspektief op die werklikheid verloor.

Kortsigtig? Ja, omdat ons ons visie op God se groter plan verloor. Die wolke van omstandighede het ons uitsig op die hemel verdonker. Kortom: Ons geloof raak wankelmoedig. Geloof beteken om op die Onsienlike te vertrou. Dit is moeilik as die dinge wat ons sien die lewe vir ons bitter maak. Kom, kry weer behoorlike visie van jou God wat groter en sterker as tydelike omstandighede is. Lees weer die teks bo-aan die dagstuk.

Die Here wil vandag vir jou vlerke gee. Die Here wil jou uit die poel van moedeloosheid lig en ’n visie gee van sy genade wat ver bo die tydelike teëspoed uitstyg. Haal diep asem en vertrou die Here met jou omstandighede en jou toekoms. Voel hoe sy krag van jou lewe besit neem. Iemand wat op die Here wag, kry nuwe krag om die lewensomstandighede met geloofsvisie aan te durf.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.