Gedagte vir die dag: ’n Opening

wolke_see_sonondergang_stiltetyd_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen”. (Handelinge 7:55-56)

Die Joodse Raad was woedend, tot so ’n mate dat hulle op hul tande “gekners” het. Hulle het hul ore toegedruk vir alles wat Stefanus gesê het, op hom afgestorm en hom by een van die stadspoorte gestenig. Vandag nog wys gidse jou daardie plek waar die eerste martelaar vir Christus met klippe doodgegooi is. Geleerde en geëerde mense kan soms nogal barbaars word. Billy Graham vertel dat sy vrou ’n Christelike klub by haar “liberale” universiteit wou stig. Sy moes volgens die professore daarvan afsien, want “dit sou aanstoot gee”. Soms is mense so gesteld op die vryheid van opinie dat net hulle eie opinie eintlik vryheid het!

Stefanus sterf onder die klippe vir sy opinie. Maar hy sien iets wat min sterflinge beskore is. Hy sien ’n opening in die hemel. In sy laaste oomblikke voel hy nie die woede van sy vervolgers of die klippe van dié wat hom stenig nie, want hy is met iets anders besig; iets oneindig groter, iets oorweldigends, iets buite ruimte en tyd. Daar kom voor sy oë ’n opening en sy bestemming word vir hom duidelik. God het as’t ware vir ’n oomblik deur ruimte en tyd en dimensies geskeur om sy getuie te help en te troos met ’n hemelse visie van Homself. Stefanus sterf eintlik in sielsverrukking, met woorde van vergifnis op sy lippe.

Dit herinner aan die laaste woord van ’n geliefde oom: “Ek sien die hemelpoort geopen en ek gaan instap.” Dis ’n voorreg. En vir ons wat lewe, is dit ’n versekering: ek het ’n eintlike adres in die ewigheid. Ek het ’n bestemming. Ek het ’n God wat omgee. Ek het ’n lewe waaraan daar geen einde is nie.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here vir die wonderlike belofte dat ons vir ewig en altyd by U sal wees..geen pyn en trane en wroeging meer nie …Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.