Gedagte vir die dag: ’n Rusplek vir jou

Boekevat-Wortelgat-Berg-ABrits.jpgLees: Matteus 11:28-30

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig. (Matteus 11:28-30)

Hedendaagse mense, ook Christene, voel dikwels moeg, moedeloos en oorlaai. Dis wonderlik om te weet daar is vir ons rus en kalmte, geborgenheid en sekuriteit by God te vind. Al wat benodig word, is dat ons ons eie onvermoë om sélf die mas op te kom, sal verklaar en God nader. Augustinus het hierdie geheim geken: “U het ons vir Uself gemaak, o God, en ons hart bly onrustig tot dit rus vind in U,” skryf hy. Sonder die vrede wat Jesus in Johannes 14:27 beloof, sal ons nooit innerlike kalmte kan hê nie. Die angstigheid en spanning te wyte aan ons oorlaaide lewenstyl gaan onvermydelik oorloop in depressie en uitbranding. Niemand anders as Jesus kan oorlaaide, moeë mensekinders weer kalm en rustig maak nie. En Hy wil dit graag vir ons doen.

Dit sal vir jou goed wees as jy in spanningsvolle tye hierdie teks in gedagte hou. Dat jy sal weet dat jy maar na God toe kan vlug as alles vir jou te veel word; van Hom kan leer sodat jy jou spanning en angs vir altyd kan verruil vir sy sagte juk en ligte las.

Here, ek probeer so hard om ontspanne en rustig te wees, maar soos U weet, misluk ek elke keer. Dankie dat ek seker kan weet daar is by U vir my ’n rusplek; ’n plek waar ek vir goed van al my angs en spanning ontslae kan raak. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Riaan Engelbrecht ·

Dankie vir die daaglikse Gedagte vir die Dag. Hier waar ek in Tanzanie werk, besef mens hoe afhanklik jy werklik van God is. Dit gee my krag vir elke dag tesame met my stiltetyd voordat ek kom werk.

Hanlie ·

Baie dankie Maroela dat jul elkedag tyd maak om vir ons ‘n Gedagte vir die Dag te plaas. Ons dien ‘n groot God. Maroela julle is baie spesiaal.

Nicolaas ·

Pragtige woorde en sowaar by GOD kan ons rus vind. HY is altyd daar vir ons maak nie saak wat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.