Gedagte vir die dag: ’n Sprakelose boodskap

see_rotse_kaap_stiltetyd.jpg

Foto: Suné van Heerden

Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. (Psalm 19:3-4) – Deel 2

Die getuienis oor God se grootheid en heerlikheid, oor sy skeppingsmag en almag word dag en nag voortgedra deur sy skeppingswerke. Dit is ’n onhoorbare boodskap, sê die digter. Sonder woorde. Wat bedoel hy? Ek reken dat hy vir ons iets van die wonder van die natuur wil laat sien. Dit is ’n woordlose verkondiging van God se grootheid. Ja, ons het woorde nodig om aan ons gevoelens uitdrukking te gee. Maar dis juis met woorde wat ons so maklik deurmekaarloop. Word eers heeltemal stil … Woorde is nie genoeg om die grootheid van God se almagswerke te beskryf nie. En wanneer ’n mens in verwondering stil word voor so ’n onbeskryflike heerlikheid is woorde heeltemal oorbodig.

Word stil … en luister en sien. Luister deur waar te neem. Ervaar die grootheid van God deur jou oor sy skeppingswerke te verwonder. Verwondering. In dié woord lê ’n sleutel gebêre. Om met kinderlike verwondering na God se werke te kyk en te wéét: Dit is niks minder as ’n sprakelose getuienis oor ’n God wat ons iedergeval met al ons woorde nie kan beskryf nie!

In die grootse skeppingswerke kry ek ’n klein flitsbeeld op God se werkswinkel.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.