Gedagte vir die dag: ’n Tyd van gee

geskenk.jpgLees: Handelinge 20:33-38

Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.” (Handelinge 20:35)

Met elke Kersfees ontdek ons opnuut hoe waar Paulus se woorde aan die ouderlinge van Efese was: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.” Kersfees is by uitstek ’n tyd vir gee – ons soek die hele jaar om presies die regte Kersgeskenke vir ons geliefdes bymekaar te kry.

Miskien moet ons hierdie Kersfees eerder fokus op die behoeftes van ander mense en nie net op ons eie konsentreer nie. Baie mense is gewoond daaraan om vir hulle kinders peperduur Kers geskenke te koop en baie meer kos vir die Kersete te maak as wat hulle kan opeet terwyl daar duisende Suid-Afrikaners is wat geen presente kry nie en Kersfees met ’n leë maag moet gaan slaap. Is jy al betrokke by ’n Kersfeesskema wat vir behoeftige mense kos en geskenke met Kersfees verskaf?

By ons gemeente vul ons skoendose met praktiese geskenke en neem dit dan saam met kospakkies na die mense wat dit regtig nodig het. Betrek hierdie Kersfees jou kinders by jou aksie van gee. Laat hulle help om die geskenke uit te soek, toe te draai en af te lewer. Verduidelik sommer dat julle gesin in hierdie Kerstyd self met minder en kleiner presente tevrede sal moet wees, sodat hulle die vreugde van gee eerstehands kan beleef.

Here, ons het so baie. Vergewe my dat ek vergeet het om te gee, is meer geseënd as om te ontvang. Help ons gesin om van hierdie Kersfees ’n tyd van gee te maak. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elbie ·

Baie waar. Om te gee, gee my so ‘huppelgevoel’ ! Dankie Liefste Vader vir dit wat ek het, help my om altyd dankbaar te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.