Gedagte vir die dag: ’n Tyd vir gemeenskap

saamstaanLees: 1 Johannes 1:5-10

As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. (1 Johannes 1:6-7)

Wat beteken die gemeenskap van gelowiges vir jou? Die Kersmaand is by uitstek dié tyd wanneer gesinne, familie en vriende saam ontspan en kuier. Ongelukkig het die meeste mense verleer om te kuier. Ek kan nog goed onthou hoe lekker ons saam met ons ouers gekuier het op Clanwilliam die klein plattelandse dorpie waar ek grootgeword het.

In die tyd toe Jesus geleef het, het gelowiges alles saamgedoen: Hulle het saamgeëet, saam nagmaal gevier en saam kerk gehou. Hulle onderlinge verhoudings was veel hegter as ons s’n.

Kom ons maak hierdie Kersfees ’n tyd vir gemeenskap met ons gesinne, familie, ons vriende en met ander gelowiges. Miskien kan jy selfs ’n eensame vreemdeling nooi om saam Kersfees te vier of uitreik na mense wat minder het as jy. Sorg ook dat die mense wat vir jou werk genoeg kos en geskenke sal kry dat hulle ’n menswaardige Kersfees saam met húlle gesinne sal kan vier.

Indien jy jou Kersfees vanjaar ’n gemeenskapsfees maak, gaan jy eerstehands die waarheid van Morgan Scott Peck se woorde ontdek: “Die enigste genesing van die wêreld se pyn lê in gemeenskap met mekaar.”

Here, dis Kersfees! Dié tyd toe U na die wêreld gekom het om met ons gemeenskap te vier. Maak vanjaar ons harte oop vir mekaar sodat ons deel kan wees van die gemeenskap van gelowiges. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.