Gedagte vir die dag: ’n Tydelike lewe

Natuur_sonstrale_wolke_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense. (Johannes 1:4)

Die lewe op aarde is tydelik. Tog bestee ons dikwels soveel energie en aan dag aan die kortstondige lewenstydperk wat ons op hierdie aarde het. Dit lyk of ons dink ons gaan vir ewig leef.

Ons moet besef dat die dood op ons almal wag. Vir die gelowige beteken die dood egter net die oorgang na ’n beter plek, na die beloning wat Jesus vir ons het. Hy sê in sy Woord: “In die huis van my Vader is daar baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak” (Johannes 14:2).

Mary Pickford gee ’n pragtige beskrywing van die dood vanuit ’n gelowige se gesigspunt:

Ek staan op ’n klipmuur in die hawe. ’n Boot hier langs my sprei sy wit seile in die oggendbries en vaar die blou see in. Ek staan en kyk hom agterna totdat hy uiteindelik net ’n wit wolkie op die horison is, daar waar die see en die lug mekaar ontmoet. Dan sê iemand hier aan my sy: “Nou toe, die boot is weg!” Weg waarheen? Net buite sig – dis al. Sy mas en romp is nog net so groot soos toe die boot hier langs my vertrek het. Hy is nog net soveel in staat om sy passasiers na sy bestemming te neem. Sy grootte het net in my oë verklein, nie in syne nie. Presies op die oomblik toe iemand hier langs my sê: “Nou toe, die boot is weg!” is daar stemme agter die horison wat gereed is om bly uit te roep: “Kyk, hier kom die boot!”

Só is die dood. Ek is daarvan oortuig dat ons die Kaptein maar kan vertrou, want Hy is die een wat gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook” (Johannes 11:25).

Vader, ek wil my kruis opneem en U volg. Herinner my daaraan dat die ewige lewe my beloning is en dat ek my tyd op die aarde wys moet gebruik. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.