Gedagte vir die dag: ’n Uitnodiging met twee voorwaardes

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

Lees: Matteus 11:28-29

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. (Matteus 11:28-29)

Matteus 11:28-29 was nog altyd twee van my gunsteling teksverse, maar dit is eers onlangs dat ek raakgelees het dit is eintlik ’n uitnodiging met ’n kinkel. Vóórdat uitgeputte en oorlaaide mense (waarvan daar tans so baie is) rus vir hulle gemoed by Jesus kan kry, is daar twee voorwaardes wat nagekom behoort te word. Ons moet bereid wees om Jesus se juk op ons te neem en sagmoedig en nederig te wees; ons moet ook onderneem om van Hom te leer; eers dán kan ons aanspraak maak op sy rus.

Om jou juk op te neem, vra van jou onvoorwaardelike vertroue en gehoorsaamheid aan Jesus se voorskrifte in sy Woord. Jy behoort ook sagmoedig en nederig te leef, soos Jesus gedoen het. Die tweede voorwaarde is dat jy bereid sal wees om van Jesus te leer. Hierdie tweede voorwaarde kan net nagekom word as jy genoeg tyd met sy Woord deurbring en dikwels met Hom praat in gebed. In jou Bybel leer jy hoe God wil hê jy moet leef, jy leer ook vir Jesus op ’n nuwe manier ken as jy die vier Evangelies noukeurig bestudeer.

Here Jesus, baie dankie vir u uitnodiging wat vir my rus beloof op daardie tye as ek moeg is en die eise wat die lewe aan my stel, te veel word. Ek onderneem nou om u juk op my te neem, U te vertrou en te gehoorsaam en genoeg tyd by U deur te bring. Amen.

Bron: Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jabulani. Khambule ·

wonderlike boodskap wat vertrosting aan ons lewe bring. Verder baie baie dankie. Groetenis jabulani khambule.

Charlotte Manuel ·

Amen, dit is so mooi soos die woord sê “ALMAL WAT BEMOEID EN BELAS IS” nie ‘n sekere uitgesoekte klompie nie, maar ALMAL. Die Here is nie aannemer van persoon nie, maar help enigeen wat berei is om Sy juk op te neem, minder in onself te word, nederig te kom word en van Jesus te leer uit Sy Woord. Baie dankie vir ‘n wonderlike Woord.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.