Gedagte vir die dag: ’n Vriend van die skrynwerker

San-Damiano_2_kruis_Annelize-Brits.jp

San Damiano (foto: Annelize Brits)

Deur sy geliefde Seun is ons verlos deurdat Hy sy bloed vir ons gestort het. Ons oortredings is vergewe omdat God die rykdom van sy genade in oorvloed aan ons gegee het. (Efesiërs 1:7-8)

Daar was eendag ’n leraar wat ’n hele paar gemeentes moes bedien. Hy het met sy perd van die een na die ander dorp gery om die Woord van God te verkondig. Op ’n dag was hy op ’n grasvlakte toe hy ’n sandstorm na hom toe sien aankom. Hy het onder sy saalkombers geskuil, aan die slaap geraak en gedroom.

’n Engel van die Here het aan hom verskyn en gesê: “Jy het gesterf en ek is gestuur om vir jou die pad te kom wys.” Die leraar het gevra: “Watter groot boek het jy daar in jou hand?” Die engel het geantwoord: “Dis ’n register met al die name van die mense wat hemel toe gaan.” Die leraar vra toe: “Staan my naam daarin? My naam is John Smith. Ek is ’n leraar en ek verkondig die Woord van God.” Die engel het in die boek gekyk en gesê: “Nee, Meneer, jou naam staan nie hier nie.” Die leraar was verpletter. “Dit móét daar staan. Ek is ’n leraar en ek verteenwoordig die Here en ek leer mense van Hom.”

Toe het die engel die leraar geneem om voor God te verskyn. Daar aangekom, het die leraar die  ongelooflikste stem gehoor bulder: “Wie is jy? Wat maak jy hier?”

Die leraar het met vrees en bewing op die vloer gelê en kon homself nie oplig nie.

Op daardie oomblik het groot, sterk skrynwerkerhande hom op sy voete gehelp en gesê: “Vader, dis alles reg. Hy is een van my vriende.” God het gesê: “Nou goed, my Seun. Laat hom binnekom.” Genade is onverdiende liefdevolle goedheid of onverdiende guns. Omdat Jesus ons so liefgehad het en die volle prys vir ons sondes betaal het, kan ons, net soos die leraar, eerlikwaar sê dat ons aan Hom behoort. Wanneer ons in die hemel kom, sal God nie ons sien nie, maar Hy sal Jesus sien wat voor ons staan. Jesus en sy onverdiende genade is ons enigste weg na die hemel.

Here Jesus, dankie vir die ongelooflike vriendskap wat U vir my aanbied. Ek weet genade is iets wat ek nie kan verdien nie, maar wat vrylik geskenk word. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christelle ·

Dankie vir hierdie treffende boodskap, dit gee my beslis hoop en versterk my geloof.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.