Op ’n dag het Dawid gevra: “Het daar nie miskien iemand uit Saul se familie oorgebly nie? Ek sou hom graag onder my sorg wil neem ter wille van Jonatan.” (2 Samuel 9:1)
Dawid is nou koning. Hy is besig. Hy verower Jerusalem en regeer sy koninkryk vanuit die Dawidstad. Hy laat die ark Jerusalem toe bring. Hy voer oorloë en verslaan die een vyand na die ander. Hy kry sy landsadministrasie in orde.
En tog maak hy tyd vir die gewone. Hy bly ingestel op mense. In 2 Samuel 8:15 staan daar: Hy het sy hele volk met reg en billikheid geregeer. Tussen al sy veeleisende pligte as koning dink Dawid aan Jonatan. Sy vriendskap reik verby die dood. Op ’n dag doen hy navraag of daar nie moontlik iemand uit Saul se nageslag is vir wie hy onder sy sorg kan neem nie.
Hy laat Mefiboset, Jonatan se kreupel seun, kom om by hom aan die koninklike hof te kom woon. Hy wil goeddoen aan die nageslag van die man wat hom vervolg het. Dit is die toppunt van vergewensgesindheid en medemenslikheid.
Hoe dikwels vergeet ons nie van iemand sodra ons lewe weer sy gewone gang gaan nie. Ons verskoning is: Ek het gedoen wat ek kon doen. Nou is dit tyd vir my eie belange.
Dawid het meer gedoen as om net vir Mefiboset in sy huis te neem. Hy het al die grond en landerye wat aan Saul behoort het, aan Mefiboset teruggegee. Daarmee het hy sy vervolger geseën en gedemonstreer hoe ware vergifnis lyk.
Here, help my asseblief om ander heelhartig te vergewe. Amen
Sjoe!!!!!
Hierdie gedeelte uit die lewe van Dawid bly besonder.
Nog ‘n voorbeeld van vergifnis is Josef wat sy broers vry spreek.
Vader help my om so te vergewe.
Amen
Here U ken die verraderlike hart van die mense, dankie dat U vergewe meer as wat ek ooit verdien