Gedagte vir die dag: Na die beeld van Jesus

man-with-open-arms-705x335.jpgLees: Romeine 8:26-30

Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. (Romeine 8:29-30)

Dit is God se bedoeling dat Christene sal verander, dat ons al minder van ons aangebore sondige eienskappe in ons lewens sal vertoon en al hoe meer gelykvormig aan Jesus sal word. Barcley stem hiermee saam. Ons sal net tevrede kan wees as ons dit regkry om nie langer soos ons (sondige) self op te tree nie, skryf hy in sy boek The Secret of Contentment. Hierdie positiewe verandering begin die dag wanneer ons tot bekering kom en duur tot op ons sterfdag, want hier op aarde sal ons nooit so volmaak soos Jesus kan wees nie.

Elke mens is na die beeld van God geskape, maar sonde het hierdie beeld vertroebel. Christenskap beteken dat God ons wil verander sodat ons sal wees soos Hy ons bestem het om te wees. Heiligmaking is dus ’n proses waaraan ek en jy elke dag moet werk. Dit vra van ons om al hoe meer soos Jesus op te tree, om soos Hy te praat, soos Hy om te gee en soos Hy lief te hê. Indien jy dit (altyd met die hulp van die Heilige Gees) kan regkry, sal jy Jesus met sy wederkoms nie net van aangesig tot aangesig kan sien nie, maar jy sal ook volmaak en volwasse soos Hy wees.

Heilige Gees, U ken elkeen van my sondes. Verander my, vergewe my sondes en help my om al hoe meer soos Jesus te word, tot op die dag van sy wederkoms wanneer ek Hom van aangesig tot aangesig sal ontmoet. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

neelsie ·

Dit is ons God se genade aan Sy kinders.
Laat toe dat die Heilige Gees jou’ klip hart ‘vervang met n’ geestelige hart.’

Madeleine van Nuwenhuys ·

…en noooooit op te gee wanneer daar “snoeiwerk” in ons lewens gedoen word nie en getrou te bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.