Gedagte vir die dag: Naby soos jou hartklop      

see_sonsopkoms_hart_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

God self het gesê: Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. (Hebreërs 13:5)

’n Dogtertjie sê eenkeer sy weet vir seker God is by haar en dat Hy in haar hartjie leef, want wanneer sy haar hand op haar hart sit, voel sy hoe Jesus doef-doef in haar hartjie rondloop.

Soms twyfel ons of God regtig by ons is; ons voel alleen en moedverlore. Maar God se Woord beloof dat Hy by ons is, ongeag hoe ons voel. Geloof is nie ’n gevoel nie; dit is ’n diep wete dat God by jou is in alle omstandighede.

Hebreërs 13:5 lees: “God self het gesê: Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Wat ’n wonderlike belofte dat jy nooit uit God se hand sal val nie. Hy is by jou!

God se teenwoordigheid in ons lewe is aangrypend en ook ’n misterie. Soms openbaar Hy Hom baie duidelik aan ons deur iets wat gebeur en ander kere besef ons eers later dat Hy ons die hele tyd gedra het, Hy was agter die skerms aan die werk.

In 2 Konings 6 lees ons hoe benoud Elisa se dienaar was toe hulle die oggend wakker word en omring was deur vyandige soldate. Toe bid Elisa dat die Here die dienskneg se oë moet oopmaak sodat hy kan sien. Dit is toe dat die dienskneg sien daar is ’n skare engele wat hom en Elisa beskerm.

Ek vra daagliks vir God om my geestesoë oop te maak sodat ek Hom kan sien. Hy is aan die werk in ons lewe, Hy is betrokke en in beheer.

Ons kyk Hom dikwels mis of skryf selfs sy handewerk toe aan toeval. Moenie oor God se genade hardloop nie. Raak stil en raak bewus van sy teenwoordigheid.

Here, dankie dat u Woord beloof U is by ons, ongeag ons omstandighede. Maak asseblief ons geestesoë oop sodat ons U kan sien. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Spikkel ·

Sjoe dis presies die boodskap.wat ek vandag nodig gehad het. Baie dankie

Pop ·

Dankie vir elke dag se boodskap Maroela. Ek weet daar is n leerskare engele van God om my.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.