Gedagte vir die dag: “Natan-eerlik” is broodnodig

Boesmansriviermond_stilte_strand_stiltetyd.jpg

Foto: Annelize Brits

Toe antwoord Natan vir Dawid: “Jy is daardie man! Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek het jou tot koning van Israel gesalf en jou uit die mag van Saul gered.’” (2 Samuel 12:7) 

“Jy is daardie man!” So klink die profeet Natan se woorde aan koning Dawid na sy sonde met Batseba (2 Samuel 11-12). Natan bedoel dit beslis nie as ’n vleiende opmerking, soos wat die Amerikaners maak wanneer hulle sê: “You’re the man!” nie. Hierdie woorde ruk die maskers van Dawid se lewe af. Dit kos egter ’n profeet om die waarheid so te ontbloot. Te veel mense smeer dinge toe. Te veel mense praat net agteraf oor ander wat droogmaak. Nie Natan nie. Nog meer, God kies om te verskil!

God se waarheid is ontblotend. Dit skyn ’n helder lig op die donkerte in ons lewe. Hiervoor gebruik Hy sy moderne Natans. Sulke mense is egter skaars. Dit kos moed om eerlik te wees – nee, nie ongeskik-eerlik nie, net omgee-eerlik. God gee genoeg vir mense om om eerlik met ons elkeen te wees, genade-eerlik, redding-eerlik. Hy wil nie hê dat ons lewens uitmekaarval nie. Hy wil ons naby Hom hê, veilig naby! Laat jy ooit ’n Natan naby aan jouself toe? Is jy ook ’n Natan vir iemand anders?

Bron: ‘n Veilige Vesting deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here voor U staan ons nakend in ons sonde…dankie dat U BLOED ons skoon was

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.