As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. (Joh 13:14-15)
Die atmosfeer in die bovertrek waar Jesus en sy dissipels die paasmaaltyd sou geniet, was waarskynlik effe gespanne. Die dissipels moes teen hierdie tyd al agtergekom het dat alles nie pluis is nie; die buitengewone gebeure van die voorafgaande paar dae het daartoe bygedra. Maar nou was hulle aandag vereers by die maaltyd. Daar was net een klein probleempie: daar was nie ’n slaaf om die gaste se voete te was nie. Die kom water en die handdoek het gereed gestaan, maar die voetewasser het ontbreek. Hoe nou? Almal kyk anderpad. Toe staan Jesus op en neem die kom water en die handdoek en begin sy dissipels se voete was. Rooi gesigte! Petrus wou dit nie toelaat nie, maar Jesus help hom reg: as hy nie deur Jesus gewas word nie, sal hy nie deel hê aan Jesus nie. Eers later sou Petrus verstaan wat dit regtig beteken, naamlik om deur die bloed van die Lam gewas te word.
Toe sê Jesus dat sy dissipels net soos Hy ook bereid moet wees om mekaar se voete te was, om regtig bereid te wees om nederig diens te lewer.
Om diens te lewer. Ons doen dit op verskillende maniere. Daar is die dienste waarvoor ons betaal word. Maar dis nie voete was nie. Daar is die dienste wat ons vanuit ’n gemaksone lewer, ’n tjekkie uitskryf of iets dergeliks, maar dis nie voete was nie. Nederige diens beteken om te buig en te kniel en ’n minderwaardige diens te lewer. Jesus het sy status prysgegee en die gestalte van ’n slaaf aangeneem sodat Hy kon diens lewer.
Ons sal moet leer om te buk … en voete te was.