Gedagte vir die dag: Nederigheid vs. Selfgeregtigheid

bid_oggendson_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Sefanja 2:3

Soek die Here, alle nederiges in die land, en doen wat Hy van julle verwag. Soek wat reg is en wees nederig. Miskien sal Hy julle beskerm wanneer die oordeelsdag aanbreek. (Sefanja 2:3)

In die fliek The Devil Wears Prada sê Miranda Priestly, die redak teur van ’n modetydskrif: “Everybody wants to be us.” Daarmee bedoel sy almal wil wees soos die mense wat by die tydskrif werk en hê wat hulle het – hulle klere, hare, posisie, handsakke, skoene en wat nog alles. Ons het slagoffers geword van die samelewing. Almal wil alles hê, want ons word gemeet aan wat ons besit, hoe ons lyk en optree, waarmee ons ry en waar ons bly. Ons wil ook nie wag of spaar vir iets nie. As die behoefte ontstaan, wil ons dit so gou moontlik bevredig!

In Sefanja 2 hoor ons ons moet ons voor God verootmoedig. Ons moet Hom vra wat om te doen. Ons moet regverdig optree en nederig wees. Met nederigheid kom ’n dienende hart. Dan maak ’n persoon se status en waar hy bly nie saak nie. Dan dien en gee jy sonder om te vra. As jy ’n dienende hart het, kom die liefde vanself. Jy sal liefde gee aan dié wat smag na ’n bietjie omgee.

Om nederig te wees, beteken om niks te wees in jouself nie. Hoogmoediges buig moeilik neer, want ons dink ’n Christelike sousie maak ons nederig. Nederiges buig laag voor die Here, want hulle hoor die hartklop van die Here. Hulle lewe naby aan Hom en weet wat Hy vra en verwag. Wie nederig van hart is, is nederig van verstand. Hulle verstaan God se wil.

As jy regverdig en nederig leef, is die Here stil-tevrede in sy liefde vir jou. Die Here jubel oor jou. Is dit nie wonderlik om te kan weet dat jy die almagtige God ook tevrede kan maak nie! Jubel en juig oor sy genadegeskenk van nederigheid en regverdigheid.

Here, ek smag na U! Ek wil hê U moet stil glimlag oor my en tevrede wees met my. Ek buig laag voor U in nederigheid. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Flemming ·

Is daar ‘n groot verskil tussen “ambisieloos” en nederigheid ? Ai… as mense maar net weet hoe lekker dit is om, volgens die gemeenskap, “ambisieloos” te wees.

Eltay ·

Nederigheid word as swakheid beskou. Mense dink dis hul groenlig om jou te vertrap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.