Toe Jesus by Petrus se huis kom, sien Hy dat Petrus se skoonma met ’n hoë koors siek in die bed lê. Hy het haar hand aangeraak en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien. (Matteus 8:14-15)
Petrus se skoonma was siek. Op sterwe. Totdat Jesus haar lewe binnegekom het. Totdat Hy haar hand geneem en vir haar gesê het om op te staan. Toe word haar liggaam gesond. Meer nog: Toe vind haar siel rus in die wete dat hierdie Jesus nie gekom het om sondaars te veroordeel nie, maar om mense met liefde te omarm, om gebrokenheid heel te kom maak, om stukkende mense weer krag te gee.
Vandag nog reik hierdie selfde Jesus ook uit na jóú hand – jou hart – omdat Hy jou meer wil gee as net gesond-wees: omdat Hy jou wil sien huppel oor die lewe. Beleef sommer net nou weer hoe die Man wat heelmaak met sagtheid in jou oë kyk. Hoe Hy jou met liefde ook deur dié dag wil lei.
Word vir ’n oomblik stil en bid: “Wanneer ek in U oë kyk, verkrummel my hart oor die teerheid waarmee U my beskou. Steek ek my hand na U uit, vind ek rus in u koesterende sterkte. Sit ek my oor teen u bors, vind ek vrede in u hartklop-van-genade. En luister ek mooi na U, sus u stem my met die woorde: Ek het jou sommer net lief.”
Vader, dankie dat ek in u onvoorwaardelike uitreik-liefde net kan wees.
Amen! Baie danki
Dankie dat julle ruimte skep vir die Daaglikse Woord