Wees dus altyd wakker en gereed, want julle ken nie die presiese datum of tyd van my koms nie. (Matteus 25:13)
Ek het al baie gesê: Ons is naby die eindstreep van ons wedloop hier op aarde. Jesus kom binnekort en ons moet gereed wees. 1 Petrus 5:8 sê vir ons: “Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” Die duiwel wil so veel moontlik mense vernietig voor Jesus terugkom. Laat ons binne en buite seisoen gereed wees.
Ons word gevra om hierdie wagtyd verstandig te gebruik; te groei in die genade en kennis van God; en ons verhouding met Jesus sterk te hou. Ons moet die voorbeeld volg van die vyf wyse maagde in Matteus 25. Vers 5 sê: “Toe die bruidegom lank weg bly, het almal vaak geword en aan die slaap geraak.” Die verskil is dat die vyf wyse maagde gereed was – toe hulle skielik wakker gemaak is, was hulle lampe gereed en gevul met olie. Hulle was voorbereid op die onverwagte en kon by die bruidegom aansluit toe Hy opdaag, terwyl die dwase maagde hulle kans verspeel het.
Die Bybel waarsku ons herhaaldelik dat ons gereed moet wees, want net God weet wanneer Jesus sal terugkeer.
Here God, ek wil vreugdevol uitsien na u terugkeer. Hou my wakker en gereed. Help my om my oorblywende tyd oordeelkundig te gebruik. Amen.
Dankie vir die mooi boodskappie, ja as mens so rondkyk in die wereld en sien wat gebeur dan is dit waar wat staan in die laaste hoofstuk van die Bybel…….. en die duiwel is werksaam glo my as jy so rondkyk wat aangaan, nee kyk vir hom jaag ek weg……. wees waaksaam mense kinders, en maak reg ons weet nie wanneer ons Pappa Vader ons kom haal nie dit kan enige sekonde van die dag wees………Amen