Gedagte vir die dag: Net jý het ’n deurhandvatsel!

sonsopkoms-man-wat-bid

Foto: living365withjesus.wordpress.com

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die fees-ete saam geniet. (Openbaring 3:20)

Holman Hunt se 1851-1853-skildery The Light of the World sluit so mooi aan by Openbaring 3:20 waar Jesus sê dat Hy by die deur staan en klop. In Hunt se skildery sien ons Jesus staan met sy hand kloppend op die deur. Maar dis ’n deur sonder ’n handvatsel. Want … Hy kan nie self die deur oopmaak nie. Net jy – wat aan die ander kant staan – kan die deur oopmaak. Net jý het ’n handvatsel. En dis presies waarop God se genade gebou is. Sy genade is nie dwang nie. Nie vrees nie. Nie voorwaardelik of afpersend nie. Sy genade is ’n vrye keuse wat Hy vir my en jou bied. Ons kan dit aanvaar. Of dit verwerp. Ons kan die deur oopmaak. Of eenvoudig wegstap. Ons kan sy liefde aanvaar. Of dit ignoreer.

Wonderlik bevrydend is God se ongeforseerde liefde! Hy sê nie ons moet ons lewens vir Hom opoffer nie. Hy gee ons die geleentheid om die deur na Hom toe oop te maak sodat ons vir altyd die liefde kan belééf. En dit dan kan lééf.

Here, my hart se deur staan wawyd oop vir U. Wees in my en leef saam met my, hier in my gewone lewe.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.