Gedagte vir die dag: Net tien minute kan jou onthou verander

gebed_stiltetyd_sit_sonsopkoms.jpg

Foto: stylonica.com

Bid terwyl julle geestelik waaksaam en dankbaar is. (Kolossense 4:2b)

Dikwels besef ’n mens die aand as jy tot ruste kom dat jy nié vandag aan God gedink het nie! As jy so ’n dag beleef, sal dit jou help om tot stilstand te kom en terug te kyk. Probeer die volgende tienminuut-oefening aan die einde van elke dag:

  • Word stil, haal lekker diep asem en word bewus daarvan dat God in jou is.
  • Vra Hom om jou te wys waar Hy in dié dag deel van jou lewe was.
  • Dink na oor jou dag en alles wat gebeur het.
  • Raak bewus van hoe die verskillende dinge jou laat voel het.
  • Vra jouself: Watter dinge het my vandag nader aan God gebring? Soos toe jy dalk meer moed gehad het, groter vrede beleef het, meer kreatief was, opgewonde was oor iets.
  • Maak tyd om vir God dankie te sê vir daardie spesiale momente en laat toe dat dit jou inspireer vir die volgende dag.
  • Dink nou aan die oomblikke toe jy vêr van God, jouself en ander gevoel het, toe jy dalk gefrustreerd, gespanne, vies of moedeloos … en Hy vêr was.
  • Vra vir vergifnis en heling vir watter aspek van jou lewe ook al.

Wees rustig in jou onthou van vandag se genade-oomblikke en die wete dat Hy vannag weer oor jou sal waak.

Gees van God, dankie!

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.