Gedagte vir die dag: Nie deur werke nie

man_pad_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto: pixabay.com

Hulle het vir Jesus gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?” (Johannes 6:28)

Wees versigtig dat jy nie jou wandel met Jesus deur geloof in die Gees begin, en dit in die vlees klaarmaak omdat jy die wet probeer gehoorsaam nie. Jy sal dit nie regkry om altyd die wet te gehoorsaam nie. Dis waarom Jesus uit die hemel na die aarde neergedaal het en die konsep van genade aan ons kom bekendmaak het, wat onverdiende goedheid beteken.

Paulus het gesê dat ons deur geloof in Jesus Christus gered word, en nie deur werke nie. Hy het gesê dat hy self ’n Jood was wat alles volgens die reëls gedoen het, maar dat hy nie sonder geloof in Jesus gered kon word nie. Moenie toelaat dat mense jou oortuig dat jy slegs hemel toe kan gaan as jy sekere reëls en regulasies volg nie. Dis net geloof in Jesus wat jou in die hemel sal kry.

Ons sal nie die ewige lewe beërwe slegs op grond van die goeie werke wat ons doen nie – dis een van die belangrikste grondliggende verskille tussen Christenskap en ander gelowe. Dit maak nie saak hoe hard ons probeer of watter goeie werke ons alles doen nie; dis eenvoudig nie hoe dit werk nie.

Romeine 1:17 sê: “Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: ‘Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.’” Dit is hoe ons eendag huis toe kan gaan om saam met Jesus te leef: nie deur goeie werke of deur die wet te gehoorsaam nie, maar omdat ons glo dat Hy die Seun van God is. Die enigste manier waarop ons na ons ewige tuiste kan gaan, is deur God se beloftes te glo. Skep dus moed. Wees net dankbaar vir die ongelooflike gratis geskenk van die ewige lewe deur Jesus Christus.

Vader, ek is opnuut in verwondering oor U, verstom oor die gratis geskenk van die ewige lewe. Ek hoef dit nie te verdien deur reëls te gehoorsaam of “goed” te probeer wees nie. Dankie vir die vryheid en die oorvloedige lewe wat in u Seun, Jesus Christus, gevind word. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magdalena ·

DANKIE Almagtige God en Hemelse Vader Vir U Genade elke dag van my liewe…….? Sonder U is Ek niks…..Sonder U my Pappa God kan Ek Nie♥

Von ·

Dankie Here vir U groot genade vir sondaars soos ek. Ek loof en prys U Heilige Naam. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.