“U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood, sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.” (Psalm 10:18)
Anders as wat die goddelose glo, is God wel ’n realiteit. Omdat Hy op die toneel is, hoef niemand te vrees nie, sê die psalmdigter. God wil ons vrees wegneem. Ons sukkel egter om ons vrees af te gee omdat vrees iets vir ons doen. Onthou dat vrees ’n nuttige reaksie van die liggaam is om ons veilig te hou. As ons bevrees is, is ons hiperbewus van die gevaar en bly ver daarvan af weg. Ons kan dus dink dat ons moet vrees, dat vrees ons plig is, dat ons vrees ons veilig hou. Dis egter nie waar nie.
Ons plig is om verstandig te leef en redelike voorsorg te tref teen gevaar. Daarna het vrees geen doel meer nie. Inteendeel, dan begin vrees ons afbreek en benadeel. Dan word vrees die gevaar en ons ons eie vyand. Op daardie punt moet ons geloof inkom. Maak die volgende jou eie: God beheer wat gebeur, God hou my veilig, God maak my vry van vrees. Herhaal dit dikwels – dit is die waarheid!
Sterke God, ek sal nie langer vrees nie. Ek gee my oor aan U. Amen.
Lees ons vandag al die goeie nuus op Maroela, hoef ons nie meer in vrees te lewe nie, dit lyk tog of ons gebede gehoor word.