Gedagte vir die dag: Nie moeilik nie?

hart_boom_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Johannes 5:1-5, 13-21

Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie … (1 Johannes 5:3)

Nie moeilik nie? Genade tog! Weet Johannes dan nie hoe swaar dit is om te moet liefhê nie?

Besef hy nie dat gewone mense, mense soos ons, ons doodsukkel om ons “naaste soos onsself” lief te hê nie? Ons sukkel dan so om “naaste” te definieer. Ons vra: Sluit “naaste” byvoorbeeld “húlle” ook in?

En ons bly wonder oor hoe ons “liefde” moet verstaan. Watter Griekse woord word nou weer hier gebruik? Is dit nie daardie een wat impliseer dat jy gelukkig op ’n afstand met die naaste kan praat en darem nie gereeld iets negatiefs oor hom of haar sê nie? So dan en wan darem ’n komplimentjie ook gee, al is dit binnensmonds?

O, en dan is daar die ou kwessietjie van die liefde vir myself: As die gebooie my verplig om my naaste “soos myself” lief te hê, sê alle logika en vele terapeute mos ek moet myself eerste liefhê. Dáárvan kan ek aflei hoe lief ek my naaste moet hê.

Ja-nee, wat ’n wonderlike plek sal dié wêreld nie wees as ek my onmeetlike groot liefde vir myself net so dupliseer en op my naaste uitstort nie! Só word die sondige wêreld in ’n japtrap deur God se kinders oorwin (vgl. v. 4).

Helaas. Die sondige wêreld speel steeds baas, terwyl ons wonder oor definisies en stry oor interpretasies en oor die algemeen ons naaste so ver moontlik van ons af wegkeer. En sake sal nie verbeter nie. Nié solank ons, God se kinders, so reddeloos selfgesentreerd leef nie.

Tot dan, Johannes, is die gebooie te moeilik vir ons om na te kom. Jammer.

Ek kan myself nie help nie, Here. U sal my van myself moet bevry.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Amen….dankie Here dat U n menshart kenner is…vergewe asb Here.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.