Gedagte vir die dag: Nie op eie insig nie

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. (Spreuke 3:5–6)

God praat met mense op baie verskillende maniere, maar Hy praat veral met hulle wat naby Hom leef. Sulke mense hou hulle daagliks besig met sy Woord. Hulle bid lank en ernstig en vra ook broers en susters om saam met hulle te bid. Hulle meet die antwoorde wat hulle kry aan beginsels wat oor jare by hulle ingeskerp is, bespreek probleme met sielsgenote en oorweeg alles biddend in die stilte van hul binnekamer. God gee insigte en antwoorde deur die influistering van die Gees, gedagtes wat tref, gedeeltes in die Bybel, ’n onverwagte telefoongesprek, ’n berig oor die radio, ontmoetings en gebeure wat binne God se ruimte afspeel in die gemoed van die opregte gelowige. God ken sy kinders; Hy weet hoe en wanneer om hulle te antwoord.

In hierdie tye van kitskos, kitsberoemdes en kitsbekerings is kitsantwoorde dikwels die norm, antwoorde wat soos weerlig uit die hemel val. Maar die waarheid word geopenbaar in en deur ’n langdurende, diep-ernstige verhouding met die Here God – ’n verhouding wat oor tyd en jare deur verskillende stadiums van groei ontwikkel tot volwassenheid, geestelike wysheid en kennis. Die wyse Salomo het gesê: Sorg dat jy wysheid bekom, gee alles wat jy het, om insig te kry! (Spr 4:7).

Aanbiddelike Heer en Meester, keer my voortvarendheid en eiegeregtigheid en leer my om geduldig te wag op u antwoord.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theuns ·

ABBA Vader laat daar niks vandag uit mond uitkom wat ander mense sal benadeel of seer maak nie! Maak ons mense versadig met u oorvloed en maak elke persoon wat in ons land woon veilig teen misdaad en ander gevare!
Ons Prys En Loof U Naam.
Amen.

Jan Jooste ·

Hy wat die paaie gelyk maak (Jer 10:23), wat jou voet nie laat wankel en nooit sluimer nie (Ps 121:3). Baie dankie Vader. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.