Gedagte vir die dag: Nie soos die wêreld nie

vrou_arms_uitgestrek_sonsondergang_see.png

Foto: onestoneaway.com

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. (Romeine 12:2)

Keer jou gedagtes weg van die kwaad. Moenie jou dag moedeloos begin nie, dink positief oor God se plan met sy skepping. Konsentreer daarop om die goeie in mense en dinge raak te sien en dank God daarvoor. Vind raakpunte in gesprekke met mense wat Jesus dien sodat julle gedagtes kan deel en mekaar kan bemoedig. Verryk jou met boeke en leesstof wat geskryf is deur skrywers wat ’n diep geestelike verhouding met die Here het en wat Gees-geïnspireerde insigte, verhale en vertellings met hul lesers deel. Dit sal jou kennis en insig verbreed, jou siel verkwik en jou beloon met baie genotvolle ure van opbeurende, bemoedigende leestof.

Moenie in die moerasse van alternatiewe musiek en letterkunde vasval nie. Niks hier op aarde is volmaak nie en skrywers en toneelspelers het ’n plig om ’n spieël vir die samelewing op te hou, sodat hulle ook op daardie manier kan leer om tussen kwaad en goed te onderskei. Maar as die spieël gebruik word om lesers en kykers in te trek in ’n wêreld van duisternis, het dit geen goeie doel nie.

Die Bose is daarop uit om ons gedagtes binne te dring en ons te verwar met leuens. Maak jou Bybel oop, lees, bid as jy onseker is of gaan vra raad, maar moenie dat daar brommers in jou kop uitbroei nie.

Here, my gedagtes dwaal soms na vreemde plekke, plekke waar ek nie meer wil wees nie. Help my om nuut oor die verlede, hede en toekoms te dink. Bring my gedagtes in harmonie met u eie. Leer my om te onderskei tussen goed en kwaad.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

johann cb ·

Dit is baie moeilik om daardie brommers wat in jou kop uitbroei, te keer. Vir ‘n leeftyd vreet depressie jou op, mense vermy jou omdat dit “aansteeklik” is en jy word alleen gelaat! As soveel dinge teen jou draai, voel dit of jou geloof jou ook nie meer dra nie. Ek kan maar net weer bid vir krag van Hom.

Andrea ·

Sterkte, johann cb. Onthou Hebr 13:5. Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat. Soms al waaraan ek vasklou

mc ·

Baie baie sterkte Johann. Dis dikwels vreemdelinge wat jou dra, dink aan jou en bid vir jou en vir elke mens in Suid-Afrika wat besig is om moed te verloor. Mag die Here ons gedagtes vorm nog voor ons dit eers kan dink, want sonder Hom is dit onmoontlik om positief te bly.

pjk ·

God beproef ons op verskillende maniere. Hou net vas, Hy sal jou deur die storms lei en in die hemel sal hierdie geopenbaar word dat jou geloof jou gered het. Baie sterkte.

LS ·

Johan, heel dikwels vind ons dit moeilik om insig in God se wil te bekom. Mag jy bemoedig word deur die krag van die werking van die Heilige Gees in jou gemoed om sodoende God se insig van Sy wil in jou lewe te ervaar en daardeur met ‘n nuwe gees toegerus te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.