Gedagte vir die dag: Nie vir die skyn nie

Toekomspad

Argieffoto: Gopixpic.com

‘Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.’ (Matteus 5:20)

Jesus kan nie enige skynheiligheid verdra nie. Dit lyk of die skrifgeleerdes en Fariseërs hulle by uitstek skuldig gemaak het aan skynheiligheid. Om voor mense te maak of jy ’n onkreukbare lewe lei – veral waar dit om Bybelse beginsels gaan – en dan agteraf juis die dinge te doen wat jy veroordeel, is ʼn euwel in die oë van ons Here. Mense mag miskien vir ’n tyd lank mislei word, maar nie God nie. Hy weet alles. Hy weet wanneer jy vir die skyn groot bydraes vir die kerk gee, maar by ’n bedelaar sal verbystap sonder om ’n sent uit jou sak te haal.

‘Maar ellende wag vir julle, Fariseërs,’ het Jesus gesê, ‘want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en allerhande soorte kruie, maar verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God’ (Luk 11:42).

Hulle wou vir die mense wys hoe presies hulle die wette nakom en het waarskynlik ’n vertoon daarvan gemaak dat hulle tot tiendes van hul kruieoes afstaan. Intussen het hulle meer geneem as wat hulle gegee het. Jesus het nie geskroom om hul korrupsie aan die kaak te stel nie.

‘Pas op vir die skrifgeleerdes,’ het Hy gesê, ‘hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal swaar gestraf word’ (lees Markus 12:38–40).

Het jy al ’n slag geslaan en ’n kar, ’n huis of ’n stuk grond teen ’n belaglike lae prys by ’n naïewe ou tantetjie bekom juis deur haar met jou Christelikheid te bekoor en met jou goedheid te verblind? Weet jy hoe dit vandag met haar gesteld is?

Genadige Heer, vergewe ons dat ons in die verlede oor ander mense gestoomroller het om onsself te verryk. Toe het dit na goeie besigheid gelyk, vandag besef ons dis diefstal.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rudolf Venter ·

Die aangehaalde vers is nie reg aangehaal nie, die rede is veklaring praktyk…

Kyk gerus die tentoonstelling van die verleiding deur die selfde vers onderaan te lees…

Mat. 5: 20

Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.

‘Tussen net hierdie 2 verse is daar n duidelike verskil om te kan sien oor wat met die wet gebeur wanneer iemand gelowig word’…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.