Gedagte vir die dag: Niks is onmoontlik nie

Stiltetyd-25-.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Sou iets vir die Here te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ‘n seun hê. (Genesis 18:14)

Wanneer God vrae vra, is daar dikwels ’n ryke belewenis van sy karakter in daardie oomblik te vind. Dit was ook die geval toe die Here vir Sara vra: “Is iets te buitengewoon vir die Here?”

Hy het dit gevra daardie dag by Mamre toe Hy aan Abraham gesê het dat hy binne die volgende jaar ’n pa sou word. Abraham, die ou man, en Sara sy ou vrou, wat al verby die jare van kinders kry was.

Sara het gelag vir dié Godsbelofte. Hoe sal sy kan kinders hê op háár ouderdom?

Die Here reageer met ’n teenvraag: “Sou iets vir die Here te wonderbaar wees?” (Gen 18:14 – 1933/1953-vertaling).

Ons weet hoe Sara en Abraham se storie eindig: hulle hét toe ’n kind gekry. Dit was toe nie te buitengewoon vir God om aan ’n vrou wat nie meer kinders kon kry nie ’n baba te skenk.

As iemand vir ons sou vra: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” sou ons onmiddellike reaksie dalk iets wees soos: “Maar natuurlik nie! Hy is dan God, Hy kan énigiets doen.”

Maar vra hierdie vraag aan jouself. Nou, op hierdie oomblik.

Is jou geloof dalk nou ’n bietjie skraps?

As jy midde-in ’n krisis verkeer of diepe teleurstelling of groot hartseer beleef, kom die antwoord op God se vraag nie so maklik nie. Ons wonder of God regtig magtig genoeg is om ons situasie te verander en om die gevoelens in ons stil te maak, of om ons stukkende hart weer heel te maak.

Of ons dit glo of nie, en of ons dit op daardie oomblik beleef of nie – die antwoord bly dieselfde: Natuurlik is niks vir God onmoontlik nie!

’n Dankbare hart vind dit makliker om dit te glo. Ja, ons mag maar met voorlopige dankbaarheid en ’n onsekere verwagting uitsien na die Here wat ons uit donker dieptes sal kom uittrek. Al lyk dinge hopeloos. Al is dit ondenkbaar. Al neem Hy baie langer as wat ons verwag het.

Niks is vir God onmoontlik nie. Sara se storie herinner ons hieraan.

Here, dankie dat niks vir U te wonderbaar is nie. U kan enigiets doen.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Von ·

Here dankie dat ek weet in my eie lewe is niks vir U onmoontlik nie. By U voete sit ek vandag die goed neer waaraan ek niks kan doen nie maar U kan…in Jesus se kosbare naam

Isabelle ·

Ek lees hierdie artikel met soveel gedagtes end gevoelens wat deur my gaan. God ht al so wonderbaarlik vir my al geseen en gehelp deur my donker dae. Ek betwyfel nie die feit dat niks by him onmoontlik is . Sarah end Abraham is nog altyd been van die mooiste verhale in die bybel .Ek wens ek is Sarah..

Jean Hattingh ·

interaksie met medegelowiges is vir my uiters belangrik en genotvol

Jack ·

Daar is meer hieraan as wat mense besef. Sara het nie soos Maria bonatuurlik swanger geraak nie. Abraham en Sara moes hulle deel doen en huweliksdinge pleeg. Dis goed om op die Here en sy beloftes te wag maar wees intussen besig.

Isabelle ·

Ek wens ek is Sarah volgende jaar hierdie tyd! Een van die mooiste verhale!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.