Gedagte vir die dag: Niks kan my van God se liefde skei nie

Stroom_Berg_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enig iets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Rom 8:38-39)

Nadat Paulus met soveel oortuiging verklaar het dat die lyding wat ons nou ervaar glad nie kan opweeg teen die heerlikheid wat daar vir ons in die vooruitsig is nie, spoor hy ons aan om te bly hoop op die heerlikheid wat vir ons voorlê. Dan sê hy nog iets waaroor gelowiges nogal dikwels kopkrap: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (v 28). Dit is vir ons moeilik om te verstaan dat die slegte dinge wat ons oorkom tog uiteindelik goeie gevolge kan hê. Ons staar ons dikwels blind teen die een klein legkaartstukkie van ons eie omstandighede. Vertrou God om ook daardie stukkie volmaak reg in te pas in sy groter prentjie wat ook tot jou voordeel sal wees.

En dan vir die hoogtepunt: Niks sal ons ooit kan skei van die liefde van God nie. Hy het dan sy eie Seun oorgegee sodat ons gered kan word. En juis op grond van die groot liefdesoffer van God kan ons met sekerheid weet dat niks ons van sy liefde kan skei nie. Ja, dis waar dat omstandighede soms geweldig uitputtend en aftakelend kan wees; ons kan dalk die gevoel kry dat ons ver bo ons kragte versoek word; ons kry dalk die gevoel dat God ver van ons is – maar moenie moed verloor nie. God is heeltyd by jou. Hy omvou jou met sy liefde.

Getuig weer saam met die psalmdigter: “Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd” (Ps 73:26).

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.