Gedagte vir die dag: Niks sonder liefde nie

 hart_see_sand_strand_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe om God se boodskap te verkondig en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. (1 Korintiërs 13:1–2)

God is Liefde. Sonder God en sonder liefde is ons niks. Ware liefde be­gin by God se liefde vir sy Seun. ‘Dit is my geliefde Seun,’ het God gesê. ‘Oor Hom verheug Ek My’ (Matt 3:17). Maar so lief het Hy sy skepsels, ons wat mense is, dat Hy sy geliefde Seun aarde toe gestuur het om ons van liefde te leer.

Dié liefde beteken om mekaar lief te hê soos die Vader die Seun liefhet en die Seun die Vader liefhet. Dis om God se werk op aarde te doen, nie omdat jy ’n beloning soek nie, maar omdat jy Hom so liefhet dat jy nie anders kan nie.

Liefde beteken om vrugte te dra wat by die liefde pas en alles wat jy doen geduldig, vriendelik, nederig, eerlik, vreugdevol en met dankbaarheid te doen. Ons word met bande van liefde aan Jesus gebind sodat ons Hom kan ken. Liefde is om op jou knieë te gaan voor jou medemense en hul voete te was. Dit beteken om bereid te wees om vir jou vriende te sterf, om alles wat skaaf en seermaak, agter te laat en onvoorwaardelik te vergewe.

‘Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die op­dragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly’ (Joh 15:9–10), sê Jesus vir sy dissipels op die vooraand van sy kruisiging.

Liewe Here, laat dit ons werk wees – om lief te hê.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

Dis dalk wat verkeerd is met party mense in hierdie land, “hulle het nie God se liefde nie”. Dit staan ook geskrywe dat ‘n doringboom nie kan vrugte dra nie. Verstaan mens dit dan reg dat dit ook nie sal help om vir party mense te bid nie? Die skrif se dan mos dat hierdie bome nie kan vrugte dra nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.