Gedagte vir die dag: Noag en die sondvloed

 houd_spyker_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees:  Genesis 6:9-22

Ek gaan ‘n oorstroming oor die aarde laat kom om al wat daarop lewe, te verdelg, elke lewende ding onder die hemel. Alles wat op die aarde is, sal omkom, maar met jou wil Ek ‘n verbond sluit. Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou skoondogters. (Genesis 6:17-18)

’n Grootrivier-kind vind die arkgebeure nie vreemd nie. Hoe dikwels het gesinne tydens hoogwater per skuit van oorstroomde eilande af gevlug. Maar dit daar gelaat …

Ander Mesopotamiese volke het ook hulle vloedverhale, soos in die Gilgamesj-epos. Daar was dus ’n vloed. Die Bybelse weergawe getuig egter van ’n lewende God teenoor ’n mitiese halfgod. Daar is vele berigte oor reste van die ark op Ararat, en ewe veel sinici. Gewoonlik hoon hulle die gedagte dat die diere so mak sou aanstap. Vereers was diere nog nie so wild vir die mens, latere uitroeier van die eersgeskapenes nie. Die mens het allengs vleiseter geword; hy was eers vegetariër (Gen 1:29). Daarbenewens is daar volop bewyse dat diere voor ’n natuurramp na hoë plekke vlug. In die Krugerwildtuin het dit in Januarie 2012 op land gewemel van waterskilpaaie. ’n Vorige waarneming van die verskynsel was tydens die tsoenami van 2004 in Indonesië. Met die aardbewing op 20 Februarie 1835 aan die Chileense kus het groot swerms seevoëls om 10:00 land-in begin vlieg, en die honde het na die heuwels gevlug (daar word gesê ’n goeie soldaat beweeg ook na hoë grond wanneer hy twyfel). Dié aardbewing het teen 11:40 begin, gevolg deur drie tsoenami’s. Voor die aardbewing in San Francisco op 18 April 1906, was die stalperde uitermate onrustig.

Noag sou op ’n hoogte bou, en hierheen sou die diere swerm, al die soorte van die omgewing so ver as wat die vloed sou tref. Maat by maat (indien paarseisoen), op soek na veiligheid en na kos, wat hulle van anderkant die plankbrug ruik. In Sleigh se Afstande (Tafelberg, 2010) wil ’n Griekse bokwagter saam met Xenophon se leër trek om Ararat te sien, en dalk die ark. Die generaal antwoord: “Ons wyk nie van die pad af nie. Jy sal in jou hart moet bly glo tot jy eendag hierheen kan terugkom.”

Gebed: Here, soos die bokwagter wil ek in my hart bly glo totdat U eendag alles aan ons openbaar. Die getuienis van u almag is immers oorweldigend groot in en om ons.

Bron: God se pad van vryheid deur Engela Linde
Uitgewer: Lux Verbi

Die e-Boek is beskikbaar by Kobo en Amazon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JC Venter

Dit lyk my met Korona Covid is ons nou weer goed op pad daarheen, ook het ons huise die ark geraak.

Gaan Die Vader een of ander tyd tog Sy hart versag en ons genadig wees?