Gedagte vir die dag: Nog ’n loflysie

wolke_berg_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met ‘n span die maat geneem, en in ‘n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met ‘n weegtoestel en die heuwels met ‘n weegskaal? (Jesaja 40:12)

In ’n ou gesang van Frederick Martin Lehman wat uit die 18de eeu dateer, beskryf dié liedskrywer God se liefde. In die laaste vers hoor ons hoe onmoontlik dit eintlik is om dit te doen:

Could we with ink the ocean fill,
And were the skies of parchment made;
Were every stalk on earth a quill,
And every man a scribe by trade;
To write the love of God above
Would drain the ocean dry;
Nor could the scroll contain the whole,
Though stretched from sky to sky.

Maar al kan ons God se lof nie volkome besing nie, sal ons nie ophou om Hom te prys vir wie Hy is en te dank vir al sy lieflikhede nie. Hy is dit waardig.

En ons het dit nodig om herinner te word aan wie God regtig is.

Juis daarom maak ek lysies wanneer my hart oorloop van my liefde vir Hom. Dit help my veral in tye wanneer dit vir my voel asof daar nie ’n druppel liefde of geloof in my binneste oor is nie. Dan haal ek weer daardie lysies uit. Een van hulle lui só:

  • Here, U is die Een wat ons in die holte van u hand hou. U is die Een wat daardie enkele skaap gaan soek en teen u bors vasdruk en terug dra huis toe.
  • U is geduldig met ons. U is goedhartig en sagmoedig en nederig van hart.
  • Here, U genees ons, ons lyf en ons siel, ons emosionele seer en ons dwarrelende gedagtes. En wanneer U genees, maak U nie net heel nie; U maak nuut en mooi. U gee ons oorwinning oor daardie seer sodat ons ook ander kan troos en bemoedig.
  • U bring hoop, Here. U werk deeglik en doeltreffend. U is so naby aan ons en so ingestel op die fynste besonderhede van ons lewe. U herskep ons hart. U vernuwe ons gees. U bring vreugde en vervulling.
  • Soms werk U na ons sin té stadig, maar ons weet U is noukeurig en betyds.
  • U is beter as wat ons ooit kan dink. U is liewer vir ons as wat ons ooit kan droom. U is nader aan ons as wat ons ooit kan voel. U bring kalmte, U gee vastigheid. U is betroubaar en sterk. En U is lief vir my.
  • U is God.

Here, ek dank U vir wie U is en vir wie U vir my is. Ek loof u lieflike Naam.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge. Amen.!

Christine ·

Baie dankie die lofprys lysie is pragtig, ek print dit en maak dit myne ook. Alle ere aan Hom aan die regterhand van God die Vader. Amen

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.