Gedagte vir die dag: Nooi Hom in jou storm in

Storm_weer_see_rotse_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto: pixabay.com

Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aan – geloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. (Markus 6:48)

Net ná die wonderwerk van die vermeerdering van die brood en vissies het Jesus gesê sy dissipels moes in ’n skuit oorvaar na die ander kant toe. Toe kom daar ’n storm op. Hulle fokus skuif van die wonderwerk na die gevaar en hulle oë is op die branders. Die wonderwerk is vergete, hulle betrokkenheid daarby iets van die verlede.

Dit is dan dat die Here Jesus na hulle toe aangestap kom op die water. In Markus word daar vertel dat Hy verby hulle wou gaan. So asof Hy nie hulle probleem raakgesien het nie. Voel ons nie ook telkens so nie?

Hulle het egter na Hom uitgeroep in desperaatheid en nadat Petrus beleef het wat dit is om op water te loop, het Jesus in die skuit geklim en het die storm bedaar. Hoe aanhoudend of desperaat roep ons nie dalk ook uit na die Een wat die storm in sy hande hou nie?

Ons kan so maklik op ’n geestelike hoogtepunt wees en selfs in daardie tyd amper trots voel dat Hy ons gekies het. Die Here kan dan in sulke omstandighede toelaat dat daar storms in ons lewe kom, net om weer ons perspektief reg te kry, naamlik dat ons niks kan doen sonder Hom nie. Hy sal Hom egter nooit opdring aan jou om in jou skuit te klim nie. Jy moet Hom nooi en selfs desperaat uitroep.

Vandag kan jy dalk by ’n geestelike hoogtepunt in jou lewe wees of jy kan dalk ’n laagtepunt ervaar. Die belangrike is om te weet dat Jesus nie op die wal sit en kyk hoe jy worstel in die storm nie. Hy is daar, nader as wat jy selfs kan sien. Nooi Hom in jou storm in.

Jesus, kom klim vandag weer opnuut in my skuit in. Laat my elke dag besef dat as U vir my is, niemand teen my kan wees nie. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan Seerot ·

Daar is en was genoeg storms in my lewe om hiervan te getuig. Tog is altyd maar en of ander storm wat êrens woed. YHWH sal nie by jou verbyloop nie. Hy help op Sy tyd. Hou jou baanrekord skoon. Die Elohim van alle tye het jou altyd in Sy oog.

Von ·

Amen….dankie Here Jesus U is getrou om die storms te laat bedaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.